Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hier is die wenners van ons landskapkuns-kompetisie!
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 01/10/2018

Die wenners van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe se landkuns-kompetisie is pas aangewys. Albei die wenners het besonderhede oor die kompetisie in die Die Burger raakgelees.  

Alta Groenewald van Grabouw het die wenfoto van die installasiekunsprojek getiteld “Die Aarde" geneem. Strijdom van der Merwe, 'n bekroonde landkunstenaar, het in opdrag van die US hierdie landkunswerk geskep. Dit is deel van die fakulteit se eeufeesvierings vanjaar.

Die installasiekunsprojek bestaan uit twee reusesirkels van koring en canola, elk met 'n deursnee van 100 meter.

Groenewald wen 'n R1000-geskenkbewys van die US Kelder.

Andries van Rooyen van die Paarl wen 'n geskenkbewys ter waarde van R1000 van die Matiewinkel. Van Rooyen, wat baie belangstel in die kunstenaar se werk, het ons kompetisievraag korrek beantwoord. Die antwoord was “vuur". Dit is een van die vier natuurelemente wat deur die kwarte van die sirkels in die kunswerk gesimboliseer word.

Die sirkels is geplant tussen koringlande op die plaas Boontjieskraal in die Overberg (langs die N2, in die rigting van Riviersonderend vanaf Kaapstad). Dit kan van die hoofpad af gesien word.