Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Parlement wens US geluk met eeuwording
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 24/08/2018

​Die Parlemen​t het die Universiteit Stellenbosch (US) geluk gewens met sy eeuwording vanjaar, en erkenning gegee aan die instelling se “bydrae as 'n nasionale bate en sy besliste en bestendige vordering met betrekking tot die bevordering van veeltaligheid, die uitbreiding van toegang, die verhoging van sy sosiale impak en die bevordering van transformasie".

ʼn Mosie in dié verband is op Donderdag, 23 Augustus 2018 gestel deur mnr Andricus van der Westhuizen, 'n parlementslid wat ook op die US-raad gedien het tot verlede maand.

In die mosie word gemeld dat die US, “sedert sy totstandkoming uit die Victoria Kollege op 2 April 1918 deur middel van ʼn Wet van die Parlement 'n toonaangewende hoëronderwysinstelling geword het wat 'n belangrike bydrae tot menslike ontwikkeling in ons land, op ons vasteland en in die res van die wêreld lewer".

Voorts het die Parlement kennis geneem dat “hoewel die Universiteit sy vele suksesse en prestasies van die afgelope honderd jaar vier, hy ook sy bydrae tot die onreg van die verlede erken en diep berou, en verantwoordelikheid teenoor huidige en toekomstige generasies aanvaar deur hom onvoorwaardelik tot die ideaal van 'n inklusiewe wêreldklasuniversiteit in en vir Afrika te verbind".

Die mosie is eenparig deur die Nasionale Vergadering aanvaar.