Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerstejaarsprestasie-toekennings
Outeur: Jean Lee Farmer
Gepubliseer: 19/04/2018

Die Viserektor Leer en Onderrig, Prof Arnold Schoonwinkel, het weer hierdie jaar die glansgeleentheid, die Eerstejaarsprestasietoekennings vir die toppresterende eerstejaarstudente van 2017, aangebied. Die geleentheid is op Woensdag 11 April 2018 by Lord Neethlingshof wynplaas gehou. Die geleentheid erken ook die rol wat die dosent in hierdie prestasies speel. Beide prof Schoonwinkel en dr. Antoinette van der Merwe het die studente geluk gewens met hul prestasies en die dosente vir hul toewyding teenoor gehalteonderrig. Die groep van 32 studente uit al tien fakulteite sluit in Verlengde Graadprogramstudente wat besondere vordering getoon het.


Die gasspreker was professor in Opvoedkundige Sielkunde, Ronelle Carolissen, Visedekaan Onderrig en Leer van die Fakulteit Opvoedkunde. Sy het met die studente gepraat oor hul sosiale verantwoordelikheid as burgers in hul gekose akademiese en toekomstige loopbane asook om as deel van die universiteitsgemeenskap bevooroordeelde idees oor sosiale kwessies teen te werk. Haar boodskap het veral beklemtoon dat almal deel van 'n gemeenskap is en dat die verandering in die land met die individu begin.


Die 90 gaste, wat dekane en vise-dekane van die 10 fakulteite ingesluit het, het ʼn 3-gang maaltyd en heerlike geselskap geniet. Die glansryke funksie is afgesluit deur Dr van der Merwe.  Sy het almal bedank vir hulle bywoning asook bydrae tot die sukses van die aand.