Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opedag pret!
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 02/03/2018

"Daar was 'n baie lekker gevoel en 'n mens is daar weg met 'n positiewe ingesteldheid," was een besoeker se kommentaar oor sy ervaring by Ingenieurswese tydens Universiteit Stellenbosch se Opedag op 24 Februarie. "Hulle het al my vrae beantwoord en was besonder entoesiasties. Dit was uiters goed georganiseer en is duidelik 'n baie professionele opset," het die tevrede besoeker bygevoeg.

Dié Fakulteit hou reeds dekades lank suksesvolle jaarlikse Opedae. Die geheim agter die sukses is die puik spanpoging deur toegewyde personeel en studente wat hul Fakulteit en die ingenieursberoep met passie bemark.

Die tientalle uitstallings en demonstrasies deur die vyf ingenieursdepartemente was soos gewoonlik 'n treffer. Die inligtingsessies oor die Fakulteit se graadprogramme en die ingenieursberoep is ook goed bygewoon.

Veral die interaktiewe demonstrasies was gewild! Op die foto links verduidelik Elaine Goosen (PhD-student en deeltydse dosent) aan 'n ontluikende jong "ingenieur" die komplekse verandering in viskositeit (oftewel vloeitraagheid) wat in bitumen, 'n nie-Newtoniaanse vloeistof, voorkom.

Op die foto regs speel jong kinders na hartelus in die toegevoegde realiteit sandpit wat ingespan word as 'n interaktiewe, virtuele hulpmiddel om die konsep van opvanggebiede en afloop te verduidelik.