Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aanlyn-vakwoordeboek bevorder meertaligheid
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 20/02/2018

Op 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag gevier om onder meer die belangrikheid van taaldiversiteit en meertaligheid in die skep van volhoubare samelewings te beklemtoon.

As ʼn meertalige instelling neem die Universiteit Stellenbosch (US) deel aan hierdie vieringe en doen dit alles moontlik om te verseker studente uit verskillende taalagtergronde is suksesvol in hul studies. Meertaligheid help ook om toegang tot die US te verbreed.

Een van die maniere waarop meertaligheid bevorder word is deur die web-gebaseerde vakwoordeboek MobiLex wat studente help om konsepte wat in hul onderskeie vakke gebruik word beter te verstaan. MobiLex verduidelik vakterminologie aan studente in Afrikaans, Engels en isiXhosa.

“Met die MobiLex-projek val die klem op meertaligheid, maar terselfdertyd op die ontwikkeling en uitbou van isiXhosa se vakwoordeskat vir gebruik in skole en op universiteite," sê Dr Michele van der Merwe van die US se Departement Kurrikulumstudie en bestuurder van die projek.

MobiLex word tans in die Fakulteite Opvoedkunde en Teologie aangewend en sal later na Ekonomiese & Bestuurswetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, en Natuurwetenskappe uitgebrei word. In 2017 het die Departement van Kuns en Kultuur R1,52 miljoen oor drie jaar bewillig om MobiLex in eersgenoemde twee fakulteite te bevorder.

In die Fakulteit Teologie behels die huidige prosesse die ontwikkeling van terme en definisies in Afrikaans, Engels en isiXhosa vir alle voorgraadse teologie-modules, sê ds Nina Müller van Velden, koördineerder van die MobiLex-projek.

Dr Van der Merwe noem dat in die Fakulteit Opvoedkunde terminologie vir Intermediêre en Senior Fase Wiskunde-onderwys bygevoeg en terme vir Kurrikulumstudie opgedateer en bygewerk is. 'n Nuwe vakgebied, naamlik Taalopvoeding, is in Afrikaans opgestel, na Engels vertaal en moet nog na isiXhosa vertaal word, voeg sy by.

“Studente en dosente in die Fakulteit is baie opgewonde oor die gebruik van MobiLex omdat dit meertaligheid in lesings help bevorder."

Müller van Velden sê hulle is verheug oor die befondsing (University Capacity Development Grant) van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding wat die uitbreiding van MobiLex na ander fakulteite moontlik sal. Dié proses het reeds op 1 Februarie 2018 begin.

“Die uiteindelike droom is dat MobiLex kampuswyd deur gebruikers in al die fakulteite benut kan word." 

Müller van Velden sê 'n MobiLex-toepassing sal binnekort bekendgestel. 

“Gebruikers sal met gemak op hul slimfone en tablette die vakwoordeboeke kan navigeer, sonder om enige data te hoef gebruik na die aanvanklike aflaai en installering daarvan."

Die toepassing sal van tyd tot tyd opgedateer kan word, soos wat verdere data ontwikkel word, voeg sy by.

Benewens die MobiLex-projek, lewer die US se Taalsentrum ook ʼn belangrike bydrae tot meertaligheid deur individuele studente se taalvaardighede in isiXhosa, Engels en Afrikaans te help verbeter.

  • Die US sal in September ʼn Taaldag aanbied. Meer besonderhede hieroor sal later bekendgemaak word.