Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opvoedkunde-studente verwelkom
Outeur: Education / Opvoedkunde: Media
Gepubliseer: 23/01/2017

Maak die beste van hierdie geleentheid en wy jou daaraan toe om die soort onderwyser en landsburger te word wat 'n verskil in Suid-Afrika sal maak.

Met hierdie boodskap het prof Maureen Robinson, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, die eerstejaarstudente van 2017 verwelkom. Sy het by 'n inligtingsessie wat Vrydag gehou is, agtergrond gegee oor die fakulteit en die personeel waarmee die studente te doen gaan kry.

"Die BEd-program is 'n baie vol program," het sy gewaarsku. "Ek hoop julle is vol energie en gereed om hard te werk."

"Julle is 'n klein groepie bevoorregte mense. Ons het meer as 800 aansoeke vir hierdie kursus ontvang en ons het net plek vir 250 studente.

"Ek vra julle op my knieë om nie hierdie geleentheid te verspeel nie. Werk hard, geniet die pret en onthou hoe gelukkig julle is om hier te wees."

Sy het aan die studente verduidelik dat die Fakulteit Opvoedkunde studente aanmoedig om vrae te vra, oor die samelewing na te dink en by kwessies betrokke te raak.

"Ons wil hê jy moet 'n goed-afgeronde mens word. Jy het nog baie jare oor as onderwyser in en burger van hierdie land en jy sal 'n groot verskil kan maak.

"Daar is soveel ongelykheid, daarom sal jy, ongeag van waar jy skoolhou, 'n goeie onderwyser moet wees. My boodskap aan jou vandag is: Wees net 'n goeie onderwyser vir Suid-Afrika, maak nie saak waar jy is nie."