Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bied matrieks ʼn tweede kans om hul NSS-uitslae te verbeter
Outeur: Anneke Muller
Gepubliseer: 05/01/2017

SciMathUS (Science and Mathematics at Stellenbosch University) se 2016 leerders presteer weereens in NSS eksamen.

Stellenbosch Universiteit se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) bied aan studente uit onderwysbenadeelde omstandighede ʼn tweede kans om te kwalifiseer vir universiteitstudies.

In die jaarlange-program kan studente hul NSS punte in Wiskunde- en Fisiese Wetenskappe verbeter. Hulle kan ook kies om Rekeningkunde en Inleiding tot Ekonomie by die universiteit te volg.

2015 en 2016-matrieks wat nie aan die toelatingsvereistes vir hoër onderwys voldoen nie, en reeds Graad 12 met ʼn gemiddeld van 60% en ten minste 45% in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe geslaag het, mag nou aansoek doen vir toelating tot die hierdie program.  Die sluitingsdatum vir aansoeke is 20 Januarie 2017.

Doen aanlyn aansoek by www.sun.ac.za/suncep of skakel ons by 021 808 2301 of 3032.

In SciMathUS loop studente elke dag klas van 08:00 tot 16:30. "Behalwe vir die akademiese onderrig, volg hulle ook modules in Akademiese Geletterdheid en rekenaarvaardighede. Dit bied die studente die geleentheid om meer selfstandig te leer en werk hul tydsbestuurvaardighede op te skerp," sê mevrou Nokwanda Siyengo, programbestuurder van SciMathUS.

Sukses!

Die 2016-groep spog met nege onderskeidings in Wiskunde en 15 in Fisiese Wetenskappe. Die vakgemiddelde vir die twee vakke het met onderskeidelik 16 en 17 persentasiepunte verbeter. Die grootste verbetering in Wiskunde is 34 persentasiepunte en 33 in Fisiese Wetenskappe. Die toppresteerder in Fisiese Wetenskappe het 89% behaal terwyl die Wiskundetoppresteerder 87% behaal het.

In die 2016-klas het 87% bo 60% in Wiskunde verwerf – die minimum toelatingsvereiste vir die meeste graadprogramme by ʼn universiteit. Hierdie studente het nou toegang om by enige tersiêre instansie in Suid-Afrika te kan inskryf. Die meeste van hulle het reeds Stellenbosch Universiteit gekies. In Fisiese Wetenskappe het 92% van die groep meer as 60% behaal.

"Sukses is binne bereik van elkeen wat bereid is om hard te werk", sê dr Trevor van Louw, die direkteur van SUNSEP. "Dit het ons al oor en oor gesien. Nie net met die verbetering van matriekpunte nie. Aan die einde van 2015 het 39 voormalige SciMathUS-studente by hierdie universiteit alleen gegradueer.  Nege van hulle het nagraadse kwalifikasies behaal – een met ʼn meestersgraad! Twee oud-studente spog reeds met doktorsgrade en daar is nog van hulle op pad!"