Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MEd-studente woon oriënteringsessie by
Outeur: Media: Opvoedkunde / Education
Gepubliseer: 12/12/2016

Die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch het onlangs 'n MEd-oriënteringsdag aangebied om nuwe meesterstudente vertroud te maak met die intellektuele basis van die MEd-reis.

Studente van so ver as Zimbabwe, Namibië, die Vrystaat, Oos-Kaap en Gauteng, asook studente van reg oor die Wes-Kaap, het die sessie bygewoon.

Hulle sal in die Departemente Kurrikulumstudie en Opvoedingsbeleidstudies studeer.

Volgens prof Aslam Fataar, Visedekaan: Navorsing in die Fakulteit Opvoedkunde, was die doel van die sessie om vir studente 'n oorsig te gee van hul studiereis in 2017.

"Die noodsaaklikheid om navorsingskapasiteit te ontwikkel vir die navorsingaspek van hul studies, is beklemtoon, en studente is bekendgestel aan die ondersteuningsprosesse en –hulpbronne wat die Fakulteit en Universiteit bied."

Die kernfokus van die oriënteringsessie was die ontwikkeling van navorsingsvoorstelle en die prosesse waarmee die studente oor die volgende tien maande besig sal wees. Die studente het ook hul studieleiers ontmoet om solank die grondslag vir 'n produktiewe verhouding te lê.

"Die studente wat die sessie bygewoon het, was baie opgewonde om aan die grondbeginsels en verwagtinge van die kursus blootgestel te word en hoewel sommige dalk effe oorweldig gevoel het, is almal slaggereed om deel te neem aan 'n opwindende leerproses wat hulle in staat sal stel om navorsing op hierdie vlak te doen," het prof Fataar bygevoeg.

Die studente sal navorsing doen oor verskeie onderwerpe wat tans relevant is vir die onderwysstelsel in Suid-Afrika.