Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit Opvoedkunde ken 522 grade toe
Outeur: Media: Opvoedkunde / Education
Gepubliseer: 07/12/2016

Altesame 522 studente in die Fakulteit Opvoedkunde het vandeesweek hul grade by die Universiteit Stellenbosch se gradeplegtigheidseremonies ontvang.

BEd-grade is toegeken aan 199 studente, Nagraadse Onderwyssertifikate (NOS) aan 164 studente, honneursgrade aan 131 studente en meestersgrade aan 17 studente. Elf studente het doktorsgrade ontvang.

Onder die graduandi was Juline Rossouw, Proteas-netbalspeler, en Kerryn Pedersen, 'n visueel-gestremde student wat haar honneursgraad in opvoedkundige ondersteuning met lof geslaag het.

'n Kansellierstoekenning is by Dinsdag se gradeplegtigheid aan prof Eli Bitzer, direkteur van die Sentrum vir Hoër en Volwasseneonderwys, toegeken.

Prof Bitzer dra reeds dekades lank tot vermoëbou in die hoëronderwysgemeenskap, gehalteversekering van hoëronderwysprogramme, en die akademieskap van die hoër onderwys by.

In onder meer die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Navorsing en Ontwikkeling in die Hoër Onderwys (SAARDHE) en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Akademiese Ontwikkeling (SAAAD) vestig hy hom as rigtinggewer in die tersiêre sektor.

Hierdie toegewyde studieleier en eksaminator het reeds meer as 100 publikasie-uitsette gelewer, en is al met die SAARDHE se Johann Pauw-gedenkprys én 'n prys van die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie as een van die Universiteit se 50 produktiefste outeurs bekroon.

Prof Bitzer tree aan die einde van die jaar af.