Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boodskap van die Dekaan - 24/10/2016
Outeur: Prof Jimmy Volmink
Gepubliseer: 24/10/2016

​Terwyl ons die laaste paar weke van 2016 se akademiese jaar betree is ons baie bewus daarvan dat heelwat studente, ouers en personeellede bekommerd is oor die breër kwessies in hoëronderwys in Suid-Afrika. Ons weet daar is kommer oor die voltooiing van die akademiese program en vrese vir viktimisering onder studente wat deelgeneem het aan protesaksie.
 
Dit is van uiterste belang dat ons voortgaan om gesprekke te voer oor die rol wat ons as landsburgers en gesondheidsorgwerkers speel om te help om die wesenlike ekonomiese en maatskaplike uitdagings in ons land aan te spreek. By die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe moet ons verbind bly tot ons waardes van uitnemendheid, integriteit, toewyding, verantwoordbaarheid, inklusiwiteit en vernuwing om te verseker dat dit deel word van ons geleefde ervaring op kampus.
 
'n Aantal gesprekke is onlangs op departementele vlak gevoer om bekommernisse van studente en personeel te bespreek. Ek en my bestuurspan het ook vergader met verteenwoordigers van al die studenteleierskapstrukture op kampus. Verder het die Transformasiekantoor 'n groepsbespreking met studente van Huis Ubuntu House gefasiliteer. Ons ondersoek tans opsies vir doelgerigte projekte om hierdie kwessies aan te spreek.
 
Ons moniteer ook die sekerheidstoestand en wend 'n daadwerklike poging aan om die aantal privaat-sekerheidspersoneel op ons kampus so min as moontlik te hou. Vir die oomblik het ons ongelukkig hierdie bykomende ondersteuning nodig om te verseker dat toets- en eksamenlokale, sowel as die buitegrense van die kampus, beskerm word. Let asseblief daarop dat alle private sekerheidspersoneel van hierdie week af 'n kenteken met 'n spesifieke nommer moet dra op 'n prominente plek op hulle uniforms sodat dit maklik is om hulle te identifiseer en enige gevalle van onaanvaarbare gedrag te rapporteer.
 
Ek wil weereens beklemtoon dat alle gevalle van misbruik, intimidasie of viktimisering aangemeld kan word by die Universiteit Stellenbosch Gelykheidseenheid deur 'n e-pos te stuur aan unfair@sun.ac.za. Ons eie Gelykheidskampioene is ook beskikbaar om u by te staan.
 
In tye soos wat ons tans beleef sal daar altyd verskillende menings wees oor watter strategieë toegepas moet word. Ek en my span wil u verseker dat die veiligheid en sekerheid van ons studente, personeel en fisiese bates vir ons van sleutelbelang is. Ons streef daarna om te verseker dat ons studente hulle akademiese program vir 2016 kan voltooi.
 
Weereens baie dankie vir u begrip en ondersteuning.