Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kobus en Edwill Steinhoff Maties Rugby se groot wenners
Outeur: Maties Sport
Gepubliseer: 11/10/2016

Kobus van Dyk en Edwill van der Merwe was die blinkste sterre by Steinhoff Maties Rugby se jaarlikse toekenningsaand.

Van Dyk – wat vanjaar sy debuut vir die Stormers gemaak het – is as Maties se voorspeler van die jaar en die klub se senior speler van die jaar aangewys. Van Dyk is ook by die Westelike Provinsie se toekenningsaand vereer, waar hy as die mees belowende voorspeler aangewys is.

Kort op sy hakke was die eerstejaarstudent Van der Merwe wat as Maties se agterspeler van die jaar en junior klubspeler van die jaar aangewys is. Soos Van Dyk, het hy ook 'n WP-toekenning ontvang toe hy as die BOUNCE o.21 speler van die jaar aangewys is. Van der Merwe was 'n lid van die Suid-Afrikaanse o.20-span en was saam met Curwin Bosch die enigste twee Suid-Afrikaners wat in die Wêreldtoernooi se droomspan ingesluit is.

Die sewesspeler van die jaar is Kyle Steyn. Hy was 'n lid van die Maties Sewes-span wat die USSA- én Varsity Sports-toernooi gewen het.

Wilhelm van der Sluys, kaptein van die span wat die WP Presidentsbeker verower het, is as klublid van die jaar aangewys. Van der Sluys het vanjaar sy laaste wedstryd vir Maties vanjaar gespeel.