Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verklaring: Akademiese aktiwiteite gaan voort by die US
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 10/10/2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) het soos alle ander universiteite vandag (10 Oktober 2016) protesaksie beleef as deel van die nasionale veldtog vir gratis universiteits-onderrig. Die Bestuur bly verbind tot finansiële ondersteuning vir arm en werkersklasstudente.

Werkers en studente van ander instellings het vandag by US-studente aangesluit en ongeveer 160 betogers het op die Stellenbosch-kampus rondbeweeg met die doelwit om aktiwiteite te ontwrig. Ondanks addisionele veiligheidsmaatreëls en toegangsbeheer by geboue, moes sommige lesings afgelas en geboue tydelik gesluit word.

Vanmiddag moes sekuriteitspersoneel die glasdeure by die Fakulteit Opvoedkunde beskerm teen die groep protesgangers en vier persone is na ‘n skermutseling met sekuriteitspersoneel en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gearresteer.

Die US bly egter daartoe verbind om te verseker dat ons studente die akademiese jaar kan voltooi en veilig sal wees. Lesings eindig op Vrydag 21 Oktober en die eksamen begin op 25 Oktober. Daar is reëlings getref vir dosente om hul uitgestelde lesings elektronies op te neem en op SUNLEARN vir studente beskikbaar te stel. Die vertrekpunt is dat akademiese en administratiewe aktiwiteite by die US moet voortgaan; en dat studente, personeel en universiteitseiendom beskerm moet word.

Alle aktiwiteite gaan voort op Dinsdag 11 Oktober en die res van die week. Elke protesaksie skep nuwe uitdagings, maar ook nuwe leerervarings. Addisionele maatreëls is reeds vir môre getref.

Al 12 studente wat geskors is tot na die voltooiing van ‘n dissiplinêre proses, is ingelig dat hul skorsing verband hou met aanranding en optrede wat ander studente verhinder het om aan akademiese aktiwiteite deel te neem,  byvoorbeeld belemmering van toegang tot die biblioteek; ontwrigting van toetse en lesings en die opskeur van toetsvraestelle.

Personeel en studente word versoek om kalm en geduldig te bly, nie op uitlokking te reageer of om protesgroepe teen te gaan nie. Die nuutste inligting verskyn op die US se webblad (skakel na bladsy) en word ook via sosiale media aan die kampusgemeenskap gekommunikeer. Die US-bestuur doen ook ‘n beroep op alle studente om in die belang van hul eie akademiese loopbane te fokus op die komende eindeksamen.

Die US-bestuur bly verbind tot gesprekvoering met die studentegemeenskap. Dit gebeur reeds die afgelope weke via die Afdeling Studentesake sedert prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, en me Tonia Overmeyer, Studentedekaan, se ontmoeting van vyf ure met studente op 17 September 2016.