Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties se manshokkiespan maak geskiedenis
Outeur: Maties Hockey / Maties Hokkie
Gepubliseer: 29/08/2016

Steinhoff Maties se manshokkiespan het vir 'n tweede agtereenvolgende jaar die klub se rekordboeke herskryf.

Met hul sege oor WPCC op Sondag, het Maties die WP-liga vir 'n vierde agtereenvolgende jaar gewen. Dit is die eerste keer in die klub se geskiedenis dat die manspan die liga vier jaar in 'n ry wen. Verlede jaar was dit die eerste keer dat 'n span 'n driekuns behaal het.

Asof dít nie reeds lekker genoeg is nie, het Maties Hokkie se manspan vir net die vyfde keer ooit en die eerste keer sedert 2009 die USSA- en WP-titel in een seisoen gewen. Die ander kere was in 1979, 1980 en 1997.

Dit was 'n naweek vol drama.

Die laaste ligawedstryd tussen Maties en WPCC het Saterdag gelykop geëindig, en die spanne moes Sondag in 'n eindstryd speel om die wenner van die liga vir 2016 te bepaal.

Dit was nie 'n maklike dag vir Maties nie. Die span het sy kaptein en staatmaker, Dylan Swanepoel, enkele minute ná die begin van die wedstryd weens 'n besering verloor, en Tom Richardson het die astrobaan ook met 'n besering verlaat.

Alex Stewart het die kapteinskap oorgeneem en die jongelinge het hul potensiaal getoon. Luke Schooling het uiteindelik, met net 'n paar minute oor, 'n doel aangeteken om te verseker dat die wedstryd 'n uitslag sou hê. Maties het met 1-0 geseëvier.

Met die vroue wat ook die WP-titel gewen het, was dit die negende keer wat albei Maties-spanne in een seisoen die liga wen. Die ander jare was in 1979, 1997, 2007, 2009, 2013-2016.