Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Joshua Farmer
Ontmoet Joshua Farmer: #MyTygerMaties60
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 23/08/2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Joshua Farmer.

“Ons is almal besig om ewig te val in ’n eindelose afgrond in. Die dood is onontkombaar. Onthou dit."

Dit is die boodskap wat die 19-jarige Joshua Farmer graag aan sy 40-jarige self wil gee. Dit is dus geen wonder nie dat Hippokrates se huiskomiteelede hom beskryf as ’n digter wat selfs die koudste van harte kan aanraak.

Farmer, ’n eerstejaar MB,ChB-student aan die Universiteit Stellenbosch (US), geniet boonop ook skaatsplankry, branderplankry en hokkie. Sy uitstekende akademiese rekord (hy het met sewe onderskeidings gematrikuleer) het hom gehelp om beide ’n werwings- én ‘n merietebeurs los te slaan.

Hy beskou sy ma, wat haar meestersgraad in Interkulturele Kommunikasie aan die US behaal het, as die mees suksesvolle persoon wat hy ken. "Sy het uit skynbaar onmoontlike omstandighede ontsnap om haar drome te bewaarheid. Sy is steeds besig om haarself te verbeter en verder te studeer en help ander mens rondom haar ook," vertel hy.

Sy eie droom is om ook dinge te doen wat mense se lewens positief verander. "Ek sal na plekke wil reis waar daar min toegang is tot gesondheidssorg en dáár mense wil help. Ek sal ook wil skryf oor my ervarings, hartseer en suksesse."

Boodskappe wat hy graag sal wil gee aan…
  • Volwassenes: “Dis moontlik om jongmense se drome, idees en toekoms te ondersteun sonder om jou eie prys te gee."
  • Tieners: "Jy is die beste persoon wat jy nou kan wees, en jy gaan net beter raak."
  • Kampus: "Werk konstant om jouself te verbeter, en moenie skaam wees daaroor nie."