Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opgedateerde brosjure oor navorsingsleerstoele, sentrums van uitnemendheid beskikbaar
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 29/06/2016

Die Afdeling Navorsingsontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Dinsdag (28 Junie 2016) ʼn opgedateerde brosjure van die US se navorsingsleerstoele en Sentrums van Uitnemendheid bekendgestel.

Die doel van die brosjure is om meer inligting te verskaf oor die fokusareas en werksaamhede van die verskillende navorsingsleerstoele en Sentrums van Uitnemendheid. Dit is die eerste keer dat die brosjure opgedateer word omdat daar nuwe leerstoele en Sentrums van Uitnemendheid bygekom het.

Die US het tans 37 Navorsingsleerstoele, waarvan 24 deel is van die South African Research Chair Initiative (SARChI), befonds deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie, deur die Nasionale Navorsingstigting. Die instelling spog ook met sewe Sentrums van Uitnemendheid.

"Ons Navorsingsleerstoele en Sentrums van Uitnemendheid maak dit moontlik om navorsingsuitnemendheid en plaaslike en internasionale kapasiteit verder te ontwikkel. Dit dra by tot die ontwikkeling van die US as `n leier op die Afrika kontinent en as `n voorkeur kennisvennoot," verduidelik Maryke Hunter-Hüsselmann, Bestuurder: Navorsingsinligting en Strategie aan die US.

Hunter-Hüsselmann sê die leerstoele en Sentrums van Uitnemendheid stel ook navorsers in staat om oor dissiplines en instellings heen op langtermynprojekte saam te werk deur van beskikbare kapasiteit en hulpbronne gebruik te maak.