Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-atlete verower vier medaljes by Afrika-kampioenskap
Outeur: Maties Sport
Gepubliseer: 27/06/2016

Matie-atlete het vier medaljes huis toe gebring van die Afrika Senior Atletiekkampioenskap wat van 22-26 Junie in Durban gehou is. Suid-Afrika het altesaam 33 medaljes gewen – 16 goud, 9 silwer en 8 brons.

Victor Hogan, wat reeds vir die Olimpiese Spele in Rio gekwalifiseer het, het sy titel verdedig en goud in diskus gewen met 'n afstand van 61.68m. Dit is sy derde Afrika-titel.

Justine Palframan en haar spanmaats het goud verower met hul oorwinning in die 4x400m-aflos in 'n SA rekordtyd van 03:28:49. Hulle het Nigerië (silwer) en Kenia (brons) geklop. Justine het ook die finaal van die 200m gehaal ná sy haar uitdun gewen het.

Justine het gesê die goue medalje was "onverwags".

"Dit was ongelooflik en opwindend om dit saam te kon vier," het sy bygevoeg.

Keagan Fourie, SA kampioen in die hoogspring, het silwer gewen met 'n hoogte van 2.18m. Hy is deur Mathew Sawe van Kenia met 'n hoogte van 2.21m geklop.

In die mans se 4x400m-aflos het Maties se Shaun de Jager en sy spanmaats brons gewen in 'n tyd van 03:04:73. Botswana het die resies in 'n tyd van 03:02:20 gewen, met Kenia tweede in 03:04:25.

Samantha Pretorius het net-net 'n medalje in die verspring misgeloop. Haar beste afstand was 6.33m terwyl die bronsmedaljewenner 'n beste afstand van 6.34m behaal het. Jean-Maré Senekal (400m hekkies) en Johan Kruger (hamergooi) het ook vierde in hul onderskeie items gekom.

Hoewel sy nie onder die eerste drie geëindig het nie, het Nienka du Toit (wat vier medaljes by die onlangse Afrika Junior Atletiekkampioenskap verower het) die diskusitem van die sewekamp gewen.

"Geluk aan al die Matie-atlete wat aan die Afrika Senior Kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem het, en veral aan diegene wat medaljes verower het. Julle het ons trots gemaak," het Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, gesê.

"Maties Sport se doelwit is om sportmans en -vroue van wêreldgehalte te ontwikkel en te ondersteun wat nie net op tersiêre en streeksvlak nie, maar ook op nasionale en internasionale vlak presteer."