Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-student na Universiteit van Cambridge
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 16/05/2016

Roxine Staats, 'n nagraadse student in biochemie aan die Universiteit Stellenbosch, het 'n beurs van die Skye Stigting ontvang om haar MSc-graad by die Universiteit van Cambridge in die Verenigde Koninkryk te gaan doen.

Die Skye Stigting is in 1997 deur die Zylstra Familietrust in die lewe geroep om nagraadse beurse in Suid-Afrika en oorsee te finansier. Die beurse word toegeken op grond van uitsonderlike akademiese prestasie in enige vakdissipline en is wêreldwyd van krag.

Roxine vertel dat sy nog altyd oorsee wou studeer: "Dit is werklik 'n droom wat waar geword het. Dit het baie moeite geverg om die aansoek in te dien en daar is steeds duisende goed wat nog gedoen moet word alvorens ek kan vertrek, maar dit is absoluut die moeite werd."

Sy sal haar navorsing doen in die laboratorium van prof. Michele Vendruscolo​ in die Centre for Misfolding Diseases by Cambridge. "Baie neurodegeneratiewe siektes, soos bv. Alzheimer se siekte en Parkinson se siekte, ontwikkel wanneer proteïene in die brein begin afbreek (ook bekend as misfolding). Soos die proteïene degenereer, lei dit tot die opbou van toksiese proteïenklonte of -massas."

"Die meeste van my werk in biochemie tot dusver het gefokus op proteïene en ensieme. Wanneer dit gekombineer word met navorsing oor neurodegeneratiewe siektes, probeer ons verstaan hoekom en hoe die proteïen afgebreek word. En dan kan terapeutiese intervensies ontwikkel word om die proses te voorkom of uit te stel," verduidelik sy.

In 2014 het Roxine die Merck-toekenning gekry vir die beste finalejaarstudent in biotegnologie in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, en in 2015 die toekenning vir die beste honneursstudent in die Departement Biochemie.

Hierdie voormalige leerder van Hudson Park Hoërskool in Oos-Londen sal in Oktober vanjaar haar akademiese loopbaan by die Universiteit van Cambridge gaan voortsit.