Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sewe medaljes vir Maties by USSA-atletiekkampioenskap
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 03/05/2016

Die Maties-atletiekspan het met drie goue medaljes, een silwermedalje en drie bronsmedaljes teruggekeer van die universiteite-atletiekkampioenskapsbyeenkoms wat die afgelope naweek (29-30 April) by die Universiteit van Limpopo in Polokwane aangebied is.

Jean-Maré Senekal, wat ook by die Varsity Atletiek-byeenkomste uitgeblink het, het goud gewen in die 400m hekkies- en brons in die 100m hekkiesitem. Dit was haar eerste kort hekkieswedloop van die seisoen.

Nienka du Toit, die Suid-Afrikaanse junior sewekampkampioen, het ook met 'n goue medalje huis toe gekom terwyl Jodie Sedras die paalspringitem gewen het.

Shaun de Jager was tweede in die 400m.

Samantha Pretorius het twee bronsmedaljes gewen – een in die verspring en een in die 4x100m-aflos saam met Senekal, Janke van Wyk en Shannon Arendse.

Maties het algeheel vyfde geëindig.

Die medaljewenners – De Jager, Sedras, Du Toit, Van Wyk, Senekal, Pretorius en Arendse – is ingesluit by die USSA-atletiekspan om van 1-6 Augustus in Zimbabwe aan die Konfederasie vir universiteit- en kollegesportverenigings (CUCSA)-spele deel te neem.