Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IPB-gemeenskapsuitreikdag
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 22/02/2016

​Lede van die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) het onlangs ʼn oggend in Jonkershoek by die Akkerland-crèche deurgebring as deel van die IPB se gemeenskapsuitreikprogram. Die uitreikdag is deur IPB-personeellid Pauliane Davidse georganiseer. Personeel en studente het ʼn prettige dag deurgebring deur die kleintjies te vermaak deur kamma-tee uit plastiekkoppies te drink en toesig oor aktiwiteite op die klimraam te hou. Die kinders het almal die geleentheid gekry om hul eie T-hemp te verf, natuurlik met baie hulp van desperate volwassenes wat hard probeer het om te verhoed dat verf oor alles en almal spat! ʼn Lang ry het ook gevorm om gesigte te laat verf, en die versoeke het gewissel van Spider-Man en Batman tot Tigger en Mini Mouse. Die worsbroodjies, koek, vrugte, lekkers en koeldrank is met groot entoesiasme deur die uitgeputte deelnemers geniet. Die personeel en studente het die crèche tevrede verlaat met die wete dat hulle ʼn klein maar positiewe bydrae gemaak het tot die welsyn van die Jonkershoek-kinders. ʼn Spesiale dankie aan die crèche-onderwyser, me. Celeste Adams, wat ons met ope arms verwelkom het en die kinders aangemoedig het om hierdie spesiale bederfdag te geniet.