Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stem hier in Verkiesing van US Raadslede 2 April 2016 - 1 April 2020
Outeur: Mnr Johann Aspeling
Gepubliseer: 18/02/2016

​Verkiesing van US Raadslede vir die termyn 02 April 2016 - 01 April 2020

 

Kennisgewing aan lede van die Konvokasie 

Lede van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch is in die pers in kennis gestel dat, weens die verstryking van die ampstermyne van dr JP (Koos) Bekker, prof DP (Prieur) du Plessis en mnr PJ (Piet) le Roux, wat deur die Konvokasie tot lede van die Universiteitsraad verkies is vir die termyn 02 April 2012 tot 01 April 2016, daar drie vakatures in die Raad ontstaan het.

Die vierde vakature wat intussen ontstaan het, as gevolg van die bedanking van dr GC (George) du Toit, wat deur die Konvokasie vir die termyn 02 April 2014 tot 01 April 2018, tot lid van die Universiteitsraad verkies was, sal na afloop van hierdie verkiesing hanteer en gevul word.​

Lede van die Konvokasie is versoek om nominasies vir die vulling van die drie (3) vakatures voor te lê. Aangesien daar meer as drie (3) kandidate genomineer is, word daar 'n verkiesing gehou. U VERTROULIKE STEMBRIEF moet die Registrateur voor 12:00 op 10 Maart 2016 bereik. Verifikasie van die geldigheid van stembriewe sal gedoen word.

 

Verkiesingsreëls​

1. U mag vir hoogstens drie (3) kandidate stem. Merk die blokkie(s) langs die naam(e) van die kandidaat(e) vir wie u stem, en voltooi die stembrief. Geen ander verandering op die stembrief is toelaatbaar nie.

2. Niemand mag meer as een keer stem nie en u moet die VERTROULIKE STEMBRIEF volledig voltooi.

3. Indien nodig kan 'n VERTROULIKE STEMBRIEF in drukformaat by die Registrateur, Universiteit Stellenbosch (021) 808 9398, aangevra word.

4. Niemand mag namens iemand anders stem of op iemand anders se stembrief stem nie.

5. Deur die voltooiing van hierdie stembrief neem die betrokke persoon persoonlik verantwoordelikheid daarvoor dat die verkiesingsreëls soos hierbo uiteengesit, nagekom is. Die oortreding van bogenoemde reëls is bedrog en is 'n kriminele oortreding. In alle gevalle waar bedrog vermoed word, sal dit ondersoek word en dit kan tot strafregtelike vervolging lei.

 

Vyf maniere om te stem

U kan op een van die volgende 5 wyses stem – die sluitingsdatum vir stemme op welke wyse u verkies om te stem, is 10 Maart 2016 om 12:00

1. Elektronies deur op die onderstaande stemknoppie te klik

2. Die voltooide stembrief te faks aan: 086 606 7946

3. Die voltooide stembrief te skandeer en te epos aan konvokasie@sun.ac.za

4. Die voltooide stembrief te adresseer en in 'n verseëlde koevert, gemerk VERTROULIK: STEMBRIEF, aan:
Mnr Johann Aspeling, Registrateur, Universiteit Stellenbosch, Privaatsak X1, Matieland 7602, te pos

5. Die voltooide stembrief per hand in 'n verseëlde koevert, gemerk VERTROULIK: STEMBRIEF, by:
Mnr Johann Aspeling, Registrateur, Universiteit Stellenbosch, Kamer A 3016, Admin A, Ryneveldstraat,Stellenbosch af te gee

​ 

Die volgende kandidate is behoorlik genomineer:

 

Mnr JS (Job) Amupanda

CV - MA in (Politiekewettenskap) verwerf aan US; 'n hoogtepunt in my akademiese en intelektuelle lewe.

Visiestelling - Twee dinge het uitgestaan; (1) US se internasionaliserings agenda en (2) pogings tot transformasie. As raadslid sal ek 'n groot bydrae kan lewer deur middel van my ondervinding en kennis in beide monumentale gebiede. Ons kan dit bereik!

 

Prof A (André) Coetzee

CV - Emeritus Professor en Uitvoerende Hoof Anestesiologie en Kritieke Sorg , US.

Visiestelling - 'n Nie rassige universiteit waar akademiese meriete die prioriteit is en Afrikaans as gelyke akademiese en bestuurstaal behou word in 'n meertalige omgewing.

 

Prof DP (Prieur) du Plessis

CV - DBA & MBA (cum laude) (Stell). Buitengewone professor (Stell); Rade: US (voorsitter: Oudit- en Risikokomitee), USB, Distell, IoDSA, PPS; President: USB Alumnivereniging.

Visiestelling: Om die US verder uit te bou as instelling van wêreldklas uitnemendheid, bestuur volgens volhoubare sakebeginsels en terselfdertyd 'n tuiste vir Afrikaanssprekendes in 'n meertalige/multikulturele omgewing. http://www.prieurduplessis.co.za

 

Prof L (Loretta) Feris

CV - BA (regsgeleerdheid), LLB, LLD (Stell), LLM (Georgetown University) is professor en direkteur van die Instituut van See en Omgewingsreg aan die UK.

Visiestelling - Die Universiteit Stellenbosch moet aan die vereistes van sosiale transformasie voorsien deur middel van opvoeding en navorsing van die hoogste standaard in 'n diverse en inklusiewe omgewing.

 

Mnr HF (Heinrich) Gonzales

CV - Toegelate prokureur, tans in diens van AfriForum (verbonde aan die instelling se hoofkantoor) in Pretoria.

Visiestelling - Ek sal veg vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal op kampus. Dit is my visie om 'n spreekbuis vir Maties-alumni te word ter bevordering van Afrikaans as onderrigtaal aan die universiteit.

 

Prof J (Joan) Hambidge

CV - 'n Professor, digter en openbare intelletueel verbonde aan die UK.

Visiestelling - Die uitrangering van Afrikaans sal 'n negatiewe impak hê op sowel vreemde as inheemse tale in Suid-Afrika.

 

Adv JC (Jan) Christiaan Heunis

CV - BA, LLB, LLM cum laude, LLD Senior advokaat, outeur, Vise-President van die US Konvokasie, voormalige US Raadslid, lektor, Hoofstaatsregsadviseur, waarnemende Regter, lid van die Spesiale Verkiesingshof, adviseur vir die Grondwetgewende Vergadering

Visiestelling: Om in ooreenstemming met die Grondwet te verseker dat Afrikaans 'n primêre taal van onderrig aan die US bly.

 

Dr J (Jerry) Mameja

CV - Stigter en voorsitter, Otesa Groep.

Visiestelling – Om as 'n magister gradiandie en raadslid, US te help om die insituut te vestig as die sentrum vir uitnemendheid assok leiers op te lei, wat sterk in karakter en oordeel en toegewyd is tot kennis vir die verbetering van die mensdom.

 

Me RS (Ronalda) Nalumango

CV - Raadslid by Stellenbosch munisipaliteit.

Visiestelling - Ek verstaan die dinamika van die groter Stellenbosch gemeenskap. Stellenbosch is een van die beste universiteite in Suid Afrika en moet daarom meer toeganklik en insluitend wees vir almal nieteenstaande etnisiteit, klas, taal of ras. Stellenbosch is vir almal.

 

Dr CJ (Corinne) Oosthuizen

CV - 31 jaar as Kliniese Sielkundige (privaatpraktisyn), 25 jaar as deskundige konsultant oor sisteme in transformasie.

Visiestelling - US moet ondersteun word om akademiese uitnemendheid uit te bou; waar Afrikaans konstruktief gehandhaaf word, waar oplossings vir finansieringskwessies gesoek word; in 'n konteks waar diversiteit en transformasie vra vir oop, verdraagsame diskoers

 

Mnr CA (Chris) Otto

CV - BComm LLB (Stell). Sakeman, Stigtersdirekteur PSG Groep, Capitec Bank en Zeder Beleggings.

Visiestelling - Is passievol oor Stellenbosch, uitnemendheid, inklusiwiteit, sport, regverdigheid en die toekoms. Voorsien moeilike jare vorentoe. Is Afrikaans, sien 'n plek vir Afrikaans aan US, maar taal moet nie verhoed dat toekomstige nasionale en internasionale leiers opgelewer word nie.

 

Me BN (Bettina) Wyngaard

CV - Skrywer en prokureur.

Visiestelling: Vir US om relevant te bly, moet daar indringend gekyk word na strukturele magswanbalanse. Akademiese uitnemendheid moet gebalanseer word met inklusiwiteit en ʼn heelhartige omarming van diversiteit. Dit sluit in ʼn ernstige herbesinning oor taal, sodat Afrikaans ʼn instrument van insluiting kan word.


STEM HIER 

 

Mnr Johann Aspeling
REGISTRATEUR
Universiteit Stellenbosch
6 Februarie 2016