Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wat die verlede vir 2016 voorspel
Outeur: Dr Morne Mostert
Gepubliseer: 20/01/2016

​Die artikel hier onder het in die 14 Januarie 2016-uitgawe van finweek verskyn. Dit is deur dr Morne Mostert, Direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch, geskryf.


Teen die agtergrond van verskeie noemenswaardige herdenkings gaan ʼn aantal globale gebeure aan 2016 vorm gee. Dit sluit die nasionale verkiesing in Amerika en plaaslike verkiesings in Suid-Afrika in.

Vir ʼn breё, sistemiese netwerk van belanghebbendes, hier en oorsee, is Suid-Afrika se toekoms van belang. Of jy nou hier woon, familie hier het of die land as ʼn toeris besoek, die dinamika van die land se toekoms sal jou lewe beïnvloed.

Die sistemiese aard van onderlinge verbondenheid het natuurlik op ontwikkelings in ander lande ook betrekking en is onderhewig aan die eb en vloei van internasionale wisselvallighede.

As ons oor 2015 nadink, sien ons dat die wêreld gekenmerk is deur grootskaalse gebeure wat wêreldwyd weerklink het. In ʼn neutedop: natuurrampe het algemeen voorgekom en die Siriese vlugtelingkrisis het die wêreld aangegryp.

In Suid-Afrika het studente-oproer, korrupsie en die veelvuldige aanstellings van ministers van finansies die nasionale diskoers oorheers, naas die afgradering van die ekonomie en die verswakkende geldeenheid.

ʼn Betekenisvolle jaar

Vir futuriste is vorige gebeure insiggewend, maar nie bepalend vir die toekoms nie. Patrone uit die verlede bepaal ons insig in die toekoms slegs teen die agtergrond van nuwe patrone.

Herdenkings is ook ʼn tegniek om vooruitgang te bepaal en dit is interessant om kennis te neem van party van die dinge wat in 2016 herdenk sal word: Twitter is vanjaar 10 jaar oud. Wikipedia is 15. Barbados vier 50 jaar van onafhanklikheid. Japan se aanval op Pearl Harbor word ná 75 jaar herdenk. Koningin Elizabeth word 90. BMW is ʼn eeu oud, so ook Einstein se artikel oor sy teorie van algemene relatiwiteit. Londenaars vier 350 jaar se herstel ná die Groot Brand van Londen. Shakespeare is 400 jaar lank van sy aardse bestaan verlos. Die Reinheitsgebot (wat die brou van suiwer bier verpligtend maak) vier 500 jaar van bedwelming. En dit is 950 jaar sedert die Slag van Hastings die fondamente gelê het vir wat eeue later ʼn wêreldwye Britse Ryk sou word.

Dié mylpale lyk miskien lukraak, maar hulle sê wel vir ons watter dinge waarskynlik sal oorleef.

Die vooruitsigte?

Ons weet Suid-Afrika gaan plaaslike verkiesings hê, wat dikwels ʼn aanduiding van landwye tendense kan gee. Om nie van Suid-Afrika ʼn utsondering te maak nie, is dit egter belangrik om kennis te neem dat Amerika nasionale verkiesings sal hê. Die DRK gaan ʼn nuwe president aanwys; Londenaars gaan ʼn nuwe burgemeester verkies; en op wisselende vlakke van egte demokrasie gaan die Skotte, Filippyne en Russe almal ʼn nuwe parlement verkies.

Behalwe as iets ramspoedig voorval, gaan Amerika nie sy oorspronklike sperdatum haal om al sy gevegstroepe uit Afganistan te onttrek nie. ʼn Skynbare beuselagtigheid is dat honde in Brittanje van April af met mikroskyfies toegerus moet wees. En Nasa se Juno-tuig sal op Jupiter land, waar mynboubedrywighede in die buitenste ruim ʼn werklikheid kan word.

Met effens minder sekerheid kan ons bespiegel dat Isis sy veldtog om te oorheers sal verskerp terwyl Al-Kaïda (nogal soos menige onaanpasbare korporatiewe monoliet) organisatories agteruitgaan. Op tegnologiese gebied sal die Internet van Dinge beteken toestelle interreageer meer en meer dikwels en teken data met groter diversiteit, akkuraatheid en soekbaarheid aan. Die bestaan van ʼn netwerk van aaneengeskakelde toestelle is ʼn virtuele sekerheid vir 2016.

Miskien is dit egter die netwerk van ideologieё wat vir die grootste kompleksiteit sal sorg. Namate Amerika, Turkye, Siriё, Rusland, China en Saoedi-Arabiё in ʼn sop van wisselende en voortdurend ontwikkelende ideologiese bondgenootskappe muteer, sal dit ál moeiliker word om die ingewikkelde aard van die internasionale politieke toneel te dekodeer. En in so ʼn ingewikkelde landskap sal Suid-Afrika sy vennote, en sy leiers, besonder sorgvuldig moet kies.

...en vir Suid-Afrika?

Daar is min tekens dat die Suid-Afrikaanse ekonomie ʼn drastiese groeisprong sal maak, want die fundamentele faktore is effens bestendig maar kritiek, indien nie kwesbaar nie. Die interne politieke faktore is vir die nasionale psige ter sake, maar bied waarskynlik geen wesenlike antwoorde nie.

Wat wel waarskynlik voordelig sal wees, is as die vraag na hulpbronne uit China toeneem. Dié wat sinies staan teenoor Afro-Chinese-betrekkinge moet dus eerder gewoond raak aan hul nuwe beste vriende. Wie in die politiek in Suid-Afrika reg en wie verkeerd is, sal waarskynlik dieselfde uitwerking hê as die optogte teen Zuma: beswaarlik enige.

Tegnologie kan op mediumtermyn ʼn mate van verligting bring, maar vir dié scenario moet Suid-Afrikaanse innoveerders uit die skaduwees tot in die kollig getrek word as ons vooruit wil gaan. Daarvoor is ʼn ideologiese verskuiwing nodig om diegene wat uitmuntendheid nastreef te verwelkom.

Mense is egter taai, en in die belang van hul eie oorlewing ook effens optimisties. Selfs die fliek Independence Day van 1996 gaan in 2016 geboorte gee aan ʼn opvolgprent sonder die megaster Will Smith.

Vir ons eie onafhanklikheidsdag is ʼn soortgelyke herrysing nou nodig.