Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US weer onder voorste universiteite op QS-vakranglys
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 12/04/2024

Die Universiteit Stellenbosch (US) is steeds een van die voorste hoëronderwysinrigtings in die wêreld in die breë vakgebiede Lewenswetenskappe en Geneeskunde; Lettere en Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Sosiale Wetenskappe en Bestuur; en Ingenieurswese en Tegnologie. Dít is volgens die 2024 Quacquarelli Symonds- (QS-) wêreldranglys vir Universiteite volgens Vakgebied wat Woensdag (10 April 2024) vrygestel is.

Altesame 1 559 instellings is vir die 2024-ranglys in 55 vakke in bogenoemde breë vakgebiede beoordeel.

Die US het ʼn top-250-plek in Lewenswetenskappe en Geneeskunde behaal, en is in die top 300 in Lettere en Geesteswetenskappe, die top 450 in Natuurwetenskappe, die top 400 in Sosiale Wetenskappe en Bestuur, en die top 500 in Ingenieurswese en Tegnologie.

Die US het in drie van die vyf breë vakgebiede in Suid-Afrika verbeter. Dit beklee die tweede posisie in Lewenswetenskappe en Geneeskunde, en Lettere en Geesteswetenskappe, die derde posisie in Natuurwetenskappe en die vierde posisie in Ingenieurswese en Tegnologie (dieselfde as in 2023), en Sosiale Wetenskappe en Bestuur (dieselfde as in 2023).

SA se beste in Landbou, Teologie

Wat spesifieke vakkategorieë betref, is die US steeds die voorste tersiêre instelling in Suid-Afrika in Landbou en Bosbou (top 100 wêreldwyd), Teologie, Godgeleerdheid en Godsdienste Studies (top 140 wêreldwyd). Dit tel ook onder die top-drie in Ontwikkelingstudies (top 100), Ingenieurswese (Chemiese Ingenieurswese – top 300, Elektries en Elektronies – top 530 en Meganiese, Lugvaartkundige en Vervaardigingsingenieurswese – top 400), Biologiese Wetenskappe (top 350), Omgewingswetenskappe (top 250), Ekonomie en Ekonomotrie (top 400), en Opvoedkunde en Regte (beide in die top 350). Die US het algeheel in vier vakkategorieë verbeter, sy plek in sewe behou, en in vyf teruggesak.

Aanwysers

Die QS gebruik vyf aanwysers vir hul ranglys, naamlik akademiese reputasie op grond van persepsies; werknemer-reputasie; navorsingsitasies per artikel; H-indeks; en die bygevoegde Internasionale Navorsingsnetwerk (IRN). Die eerste twee is gegrond op wêreldwye opnames onder akademici en werkgewers wat gebruik word om 'n instelling se internasionale reputasie in elke vak te bepaal. Navorsingsitasies per artikel meet die gemiddelde aantal sitasies wat per publikasie behaal is en is 'n skatting van die impak en gehalte van die wetenskaplike werk wat deur universiteite gedoen word. Die H-indeks bepaal die stabiliteit van die impak en gehalte van die werk wat deur 'n instelling se akademici gepubliseer word. Die IRN is 'n maatstaf van 'n universiteit se doeltreffendheid om stabiele navorsingsmedewerkings in elk van die vyf breë vakgebiede te vestig.

Die US het die afgelope paar jaar konsekwent onder die beste tersiêre inrigtings wêreldwyd op die volgende ranglyste verskyn: QS-wêreldranglys volgens vakgebiedTimes Higher Eduction se wêreldranglys vir vakke en die ShanghaiRankings-wêreldranglys vir akademiese vakke. Hierdie ranglyste gebruik verskillende metodologieë en aanwysers om universiteite se plek op hulle ranglys te bepaal.