Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US beste universiteit in SA vir rekenaarwetenskapstudies
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 07/10/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) is onder die top 500 universiteite in die wêreld vir Rekenaarwetenskap. Dit is volgens die 2022 Times Higher Education (THE) World University Subject Rankings for Computer Science.

Die US het die 491ste plek vir rekenaarwetenskap behaal, met nog vyf Suid-Afrikaanse universiteite op die lys: die Universiteit van Kaapstad (519), die Universiteit van Pretoria (574), die Universiteit van KwaZulu-Natal 689, die Universiteit van die Witwatersrand (792) en die Tshwane Universiteit van Tegnologie (887).

Prof Bernd Fischer, hoof van die US se Rekenaarwetenskapafdeling, sê hy glo dié posisie op die ranglys is 'n bevestiging van hul langtermynbenadering: “Met onderrig plaas ons groot klem op die fundamentele aspekte van die werk en op onafhanklike werk. Die meeste modules behels ook 'n aansienlike praktiese komponent wat onafhanklike projekwerk insluit. In navorsing fokus ons op 'n aantal kernareas, soos sagterwate ontwikkeling, teoretiese rekenaarwetenskap, datawetenskap en kunsmatige intelligensie."

Omtrent al die dosente het doktorale grade en is aktiewe navorsers. Boonop is die afdeling die tuiste van twee van die enigste A-geëvalueerde rekenaarwetenskaplikes in Suid-Afrika ('n A-evaluasie van die Nasionale Navorsingstigting beteken hy of sy word onteenseglik deur hul eweknieë as leidinggewende internasionale wetenskaplikes in hul vakgebied erken).

“Ons studente word ook hoog aangeskryf deur die industrie, en baie van hulle word posisies aangebied nog voordat hulle gradueer," voeg hy by.

  • Klik hier indien jy daarin belangstel om vir 'n BSc-graad in rekenaarwetenskap by die US in te skryf.
  • SU het ook 'n nuwe jaarlange gestruktureerde meestersprogram in masjienleer en kunsmatige intelligensie ingestel vir studente met 'n sterk agtergrond in wiskunde en berekening. Die program begin in 2022. Aansoeke sluit 31 Oktober. Klik hier om meer te wete te kom.