Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US skitter op jongste wêreldranglys vir akademiese vakke
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 27/07/2022

As jy jou verder op die gebiede van voedselwetenskap en tegnologie, kommunikasie of landbouwetenskappe in Suid-Afrika wil bekwaam, is die Universiteit Stellenbosch (US) die plek om te wees.

Volgens die 2022 Shanghai-ranglys se Global Ranking of Academic Subjects (GRAS) wat onlangs vrygestel is, is die US die beste universiteit in die land in hierdie vakke. Dit is die enigste Suid-Afrikaanse universiteit wat op die ranglys vir Voedselwetenskap en -tegnologie (onder die top 150 wêreldwyd) en vir Kommunikasie (onder die beste 300 wêreldwyd) verskyn. In landbouwetenskappe verskyn die US in die top 200 universiteite in die wêreld. Die US deel verder ook die eerste plek in biotegnologie met die Universiteit van Kaapstad (UK) en in politieke wetenskap met onderskeidelik UK en die Universiteit van Johannesburg. Algeheel is die US een van die 500 beste instellings ter wêreld in 14 van die 54 vakke wat op die 2022-lys verskyn.

Die Shanghai-ranglys het in 2009 begin om wêreldranglyste vir universiteite volgens akademiese vakke uit te gee. Met die bekendstelling van verbeterde metodologie, het die GRAS vir die eerste keer in 2017 verskyn. Die 2022-Gras bevat ranglyste van universiteite in 54 vakke wat strek oor natuurwetenskap, ingenieurswese, lewenswetenskappe, geneeskundige wetenskappe en sosiale wetenskappe. Meer as 1 800 uit 5 000 universiteite in 96 lande en streke verskyn uiteindelik op die ranglys.

Die Shanghai-ranglys gebruik 'n reeks objektiewe akademiese aanwysers en derdepartydata om die prestasie van universiteite in toepaslike onderwerpe te meet. Dit sluit in uitsette, navorsingsinvloed, internasionale samewerking, navorsingsgehalte en internasionale akademiese toekennings.

Vroeër vanjaar het die US ook onder die beste tersiêre inrigtings verskyn op die QS-wêreldranglys vir Universiteite per vak deur die boonste plek uit alle Suid-Afrikaanse universiteite in landbou en bosbou, teologie, diviniteit en godsdiensstudies te behaal. In 2021 het die Times Higher Education se wêreldranglys volgens vakke die US as die land se beste universiteit in rekenaarwetenskap aangewys.