Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Hersiening van Taalbeleid (2016)

​​​​​​​Universiteitsraad gee goedkeuring vir nuwe Taalbeleid (2021)

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het die Taalbeleid (2021) goedgekeur vir implementering vanaf 2022. Die finale konsep-weergawe van die Universiteit se voorgestelde nuwe Taalbeleid (2021) het by die Raad se laaste vergadering van die jaar op 2 Desember 2021 gedien nadat dit in November by die onderskeie vergaderings van die Institusionele Forum (12 November 2021) en Senaat (26 November 2021) vir goedkeuring deur die Raad aanbeveel is.

Artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys (Wet 101 van 1997, soos gewysig) en die US se Statuut (2019) skryf voor dat die Universiteitsraad die instelling se Taalbeleid met die instemming van die Senaat moet bepaal. Dit is die enigste beleid wat die instemming van die Senaat as voorvereiste stel vir goedkeuring deur die Raad.

Die proses vir die hersiening van die Taalbeleid (2016) is in Oktober 2020 geloods. Aangesien die Taalbeleid (2016) in 2019 die toets van die Konstitusionele Hof deurstaan het, het die Taakspan vir die Hersiening van die Taalbeleid dié 2016-beleid as vertrekpunt vir die hersieningsproses gebruik. Die taakspan is saamgestel uit verteenwoordigers van al tien van die US se fakulteite, die professionele en administratiewe steundienste en studenteverteenwoordigers, met tegniese kundiges wat soos nodig gekoöpteer is.

Die hersieningsproses het 24 taakspanvergaderings en twee fases vir openbare oorlegspleging ingesluit, asook drie omvattende konsultasierondtes met die Rektoraat, fakulteitsrade, die Senaat, die Institusionle Forum en die Raad.

Doel en grondbeginsels

Die doel van die taalbeleid is om taalgebruik in alle aspekte van die Universiteit te reël, te bestuur en oorsigbestuur daaroor uit te oefen. Die drie grondbeginsels van die Taalbeleid (2021) bepaal dat die US meertaligheid as ‘n hulpbron beskou; dat taal toegang moet verbreed en sukses ondersteun; en dat die beleid en die implementering daarvan pedagogies verantwoordbare leer en onderrig moet fasiliteer.

Meertaligheid

By die US verwys meertaligheid na institusionele en individuele meertaligheid, maar dit sluit ook meertaligheid in as ‘n manier om inklusiwiteit te bevorder en ’n waardering te kweek vir die waarde van diversiteit. Dit strek veel verder as om net ruimtes en strukture te skep vir die gebruik van veelvuldige tale in akademiese, administratiewe en sosiale kontekste, of ‘n individu se bereidwilligheid om verskillende tale aan te leer. Meertaligheid weerspieël ook ‘n gesindheid, of ingesteldheid, wat die instelling onder sy kampusgemeenskap wil bevorder. 

In die praktyk word dié ingesteldheid uitgeleef by seremoniële geleenthede soos die verwelko-mingsgeleentheid vir eerstejaarstudente en gradeplegtighede, waar Afrikaans, Engels en isiXhosa gebruik word; by vergaderings en sosiale geleenthede waar transtaligheid* spontaan gebeur te midde van wedersydse respek en verdraagsaamheid vir verskillende taalvaardighede; waar ‘n individu gretig is om ‘n addisionele taal te leer; en in die lesinglokaal waar dosente, dosentassistente, tolke en studente mede-verantwoordelikheid vir meertaligheid aanvaar deur mekaar te help om akademiese inhoud te verstaan.

Hoewel dit belangrik is dat studente die ruimte gegun word om instrumente soos transtaligheid te gebruik om informeel in die klaskamer te kommunikeer, behoort hulle by ‘n hoëronderwysinstelling ook taal/tale formeel te bestudeer, en te leer hoe om die akademiese en tegniese terminologie te gebruik. 

Die beleid lui voorts: “Sonder om uit die oog te verloor dat die US ook gemeenskappe oor die vasteland en die wêreld heen bedien, verbind ons onsself tot meertaligheid deur die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa, te gebruik.

Transtaligheid is ’n versamelterm vir ’n konteks waarin meertalige persone die taalhulpbronne tot hulle beskikking gebruik om met mekaar en met tekste om te gaan om betekenis te skep. In klaskamerverband is die doel om leer deur middel van verskeie strategieë te verdiep, wat insluit, maar nie beperk is nie tot, oorskakeling tussen tale (code switching), vertaalpraktyke, dubbeltaligheid (co-languaging) en tolking, sonder enige poging om kommunikasie of omgang met tekste tot een taal of taalvariëteit te beperk.Taalbeleid 2021

​​​Taalbeleid 2021









​​





















LEES MEER OOR hersiening van die TAALBELEID

​​



LanguagePolicy_AfrGraphic_06_09_2021_2.jpg

Tydlyn en mylpale

Die hersiening van die Taalbeleid (2016) is in Oktober 2020 geïnisieer deur 'n taakspan saam te roep en deur 'n tydsraamwerk gegrond op die Universiteitsalmanak vir 2021 op te stel. Die 2021-hersiening maak deel uit van die hersieningsiklus van elke vyf jaar soos wat in dié beleid voorgeskryf word. Paragraaf 10 van die Taalbeleid (2016) bepaal die beleid “verval vyf jaar ná die implementeringsdatum daarvan" en dit moet “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien word". Die huidige beleid het aan die begin van 2017 in werking getree.

Die doelwit was om op 2 Desember vanjaar 'n finale hersiene Taalbeleid (2021) vir goedkeuring aan die Universiteitsraad voor te lê. Die mylpale in die tydlyn fokus op die geskeduleerde vergaderings van die Senaat, Institusionele Forum en die Raad, asook die twee geleenthede vir openbare oorlegpleging. Stap een tot stap nege van die tydlyn en mylpale (verwys na tydlyn hierbo) is nou voltooi, onder meer ook die twee geleenthede vir openbare oorlegpleging, en drie rondtes van interne raadpleging. 

Finale konsultasie- en goedkeuringsfase

Die finale konsultasie- en goedkeuringsfase van die taalbeleidhersiening het gestrek van Oktober tot die raadsvergadering op 2 Desember 2021. Na die voltooiing van die tweede oorlegpleging en die interne raadplegingsfase in September, het die taakspan al die insette van die Rektoraat, fakulteitsrade, Institusionele Forum, Senaat en die Raad, en die voorstelle uit die tweede oorlegpleging oorweeg in die formulering van die finale konsepweergawe van die Taalbeleid (2021).

Naas die ander kontekstuele dokumente wat elders op hierdie webblad beskikbaar is, het die onderstaande lys dokumente in Oktober en November by die onderskeie vergaderings van die fakulteitsrade, Institusionele Forum (12 November 2021) en die Senaat (26 November 2021) as deel van die finale konsultasie- en goedkeuringsfase gedien. 

Language Policy_Oct_afr.png Language Policy_Oct_afrwnotes.png isixhosa_final.png supp op_lang policy_afr.png main op_lang policy_afr.png

Tweede openbare oorlegpleging (​Julie/Augustus 2021)

Die tweede openbare oorlegpleging het dieselfde proses gevolg as die eerste konsultasiefase in Maart/April 2021. Alle insette word oorweeg, maar net soos in die eerste rondte, sal dit nie moontlik wees om alle voorstelle by die finale konsep-weergawe van die hersiene beleid in te sluit nie. Die Senaat en die Raad sal by hul onderskeie vergaderings op 10 September en 27 September 2021 die tweede konsepweergawe van die hersiene Taalbeleid (2016) en die tweede reaksieverslag oorweeg. 

Vind van links na regs hieronder die dokumente wat met die tweede openbare oorlegpleging verband hou: 

  • Reaksieverslag: tweede openbare oorlegpleging (22 Augustus 2021)
  • Tweede konsep-weergawe van die hersiene beleid na deeglike oorweging van die kommentaar wat gedurende die eerste openbare deelname en die US se interne konsultasie ontvang is;
  • Tweede konsep-weergawe van die hersiene beleid waarin die veranderings wat aangebring is en die kommentaar van die taakspan aangedui word;
  • Konteksdokument vir die hersiening van die Taalbeleid (2016)
Reaksieverslag_22Aug.png
tweede_vir kommentaar.png
tweedekonsep.png
​​konteksdocument.png

​​Kontekstuele dokum​ente 

As deel van die tweede openbare deelname het die US die inligting wat die taakspan gedurende die hersieningsproses oorweeg het, aan die publiek beskikbaar gestel. Die Konteksdokument vir die hersiening van die Taalbeleid (2016) verskaf 'n breë oorsig van die proses en tydlyn; die internasionale en nasionale konteks van die hoëronderwyssektor, die US-konteks; die implementeringskoste van verskillende taalscenario's en die siening van die Rektoraat oor meertaligheid en die US se Taalbeleid (2016). Belangstellendes kan vir meer inligting na die kontekstuele dokumente verwys wat hieronder gelys word.​

​Hoëronderwyskonteks

US-konteks



Taalopnames

Verskeie taalopnames is sedert 2017 na die implementering van die Taalbeleid (2016) onderneem. Voorgraadse studente is in Maart 2017 – en weer in September 2017 - genooi om kommentaar te lewer op hoe hulle die gebruik van taal binne en buite die lesingsaal ervaar. In Julie 2019 is ‘n verdere twee taalopnames onderneem. Vir studente het dit ‘n opvolg-opname onder voorgraadse studente ingesluit (soortgelyk aan die 2017-opnames), asook ‘n nuwe opname onder nagraadse studente om te bepaal hoe hulle die taalgebruik in die leef-, ko-kurrikulêre en administratiewe omgewings ervaar. In dieselfde tydperk is ‘n afsonderlike opname oor die taalgebruik in hul leer- en werksomgewings onder personeel voltooi.

Eerste open​bare oorlegpleging (Maart/April​ 2021)​​

In Maart/April vanjaar het die Universiteit Stellenbosch belangstellendes genooi om kommentaar te lewer op die die eerste konsep-weergawe van die hersiene taalbeleid as deel van die hersieningsiklus van elke vyf jaar soos wat in dié beleid voorgeskryf word.  Paragraaf 10 van die Taalbeleid (2016) bepaal die beleid “verval vyf jaar ná die implementeringsdatum daarvan" en dit moet “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien word". Die huidige beleid het aan die begin van 2017 in werking getree. 

Die tydperk vir eerste openbare deelname was van 20 Maart tot 12 April 2021. Aangesien die Konstitusionele Hof in 2019 bevind het dat die Taalbeleid (2016) grondwetlik geregverdig is, en dat die Universiteit se proses om die beleid te aanvaar “deeglik, uitvoerig, inklusief en behoorlik beraadslagend was", is die taakspan versoek om die huidige beleid as hul vertrekpunt te gebruik.

Die hersiening word verder gelei deur onder meer die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 wat aanvaar en geïmplementeer is na die goedkeuring van die Taalbeleid (2016), asook die Taalbeleidsraamwerk (2020) vir Openbare Hoëronderwysinstellings wat uitgevaardig is kragtens die Wet op Hoër Onderwys (Wet 101 van 1997 soos gewysig). Verwys na die Konteksdokument vir die hersiening van die Taalbeleid (2016) vir meer inligting.

Van links na regs:

  • Die Reaksieverslag met kommentaar van die publiek wat gedurende die eerste openbare deelname in Maart/April 2021 ontvang is;
  • Eerste konsep-weergawe van die hersiene Taalbeleid (2016) wat vir openbare kommentaar gepubliseer is;
  • Huidige Taalbeleid (2016).
​​reaksieverslag.png
hersiene.png
US-Taalbeleid.png

Afrikaans as inheemse taal ​ 

Die nasionale Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (die Nasionale Beleid) wat in Oktober 2020 deur die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie gepromulgeer is, definieer inheemse tale as “tale waarvan die erfenis in Afrika gewortel is (word ook in die literatuur en sommige beleidsdokumente Afrikatale genoem) en tot die Suid-Bantoetaalfamilie behoort, waar 'Bantoe' alleenlik as 'n taalkundige term gebruik word. 'n Inheemse taal is 'n taal wat inheems is in 'n streek of land, en deur inheemse mense gepraat word". 

In reaksie op die uitsluiting van ​Afrikaans in die klassifikasie van inheemse tale in die Nasionale Beleid, het die Stellenbosse Universiteitsraad by sy vergadering van 21 Junie 2021 die volgende mosie oor inheemse tale aanvaar: “Die US het met kommer kennis geneem van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se klassifikasie [van inheemse tale] in die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020). Die US ondersteun die siening dat Afrikaans en die Khoi- en San-tale inheemse tale is. Die Raad versoek die US-bestuur om gepaste stappe te doen om met die DHOO in gesprek te tree om hierdie kwessie te hanteer." 

Die US het in 2018 in sy omvattende terugvoer op die konsep- hersiene Taalbeleid vir die Hoër Onderwys (2017) sy ​steun toegesê aan die siening dat Afrikaans 'n inheemse Suid-Afrikaanse taal is. Universiteite is nie 'n geleentheid gegun om kommentaar te lewer op die finale weergawe van die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings voordat dit in Oktober 2020 gepubliseer is nie. Die US het ook die aangeleentheid onder Universiteite Suid-Afrika (USAf) se aandag gebring. Aangesien die US nie kennis dra van ander universiteite wat die praktiese en koste-implikasies van die nuwe raamwerk in die Nasionale Beleid verreken het nie, is die aanname dat weinig universiteite nog die geleentheid gehad het om dit te doen.

​​