Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Engelse US-stylgids nou beskikbaar vir leiding oor taalgebruik in Engels

​Die splinternuwe SU Style Guide, gemik op personeel en studente van die Universiteit Stellenbosch (US), is pas bekendgestel. Laai die gids gerus hier af.

Die SU Style Guide is saamgestel om as 'n toeganklike bron oor die gebruik van Engels te dien vir die hele US-gemeenskap én vir enigiemand anders wat dit wil gebruik. Die doel van die Style Guide is om te verseker dat, wanneer ons in Engels namens die Universiteit skryf, die manier waarmee ons met taal omgaan versoenbaar is met die Universiteit se beeld. Die Style Guide verteenwoordig dus riglyne en huisreëls eerder as 'n omvattende stel universele grammatikareëls, en die voorkeure wat in die Style Guide weerspieël word, is dié van die US. Die gids is in opdrag van die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie- en Bemarking van die Universiteit deur die US Taalsentrum saamgestel. Die gids kan saam met die Handelsmerkhandleiding gebruik word, wat meer leiding gee oor die eenvormige US-handelsmerk ten opsigte van hoe ons die Universiteit visueel voorstel en daarvan praat.

Taal is wonderbaarlik veelsydig, wat die konteks waarin 'n woord gebruik word of 'n reël toegepas word, baie belangrik maak. Daarom verskyn daar heelwat voorbeelde en wenke in die Style Guide. Die belangrikste taalkonvensies in Engels word in Afdeling 1 saamgevat. Hierdie afdeling kan 'n persoonlike stylblad en 'n betroubare metgesel word wanneer ʼn mens in Engels skryf. Die volgende twee afdelings werk meer met die hoe van die skryfwerk wat ons doen: hoe om die beginsels van verstaanbare taal te gebruik om 'n doelgehoor te bereik, en hoe om wetenskaplike inligting boeiend en relevant te maak om ons lesers geïnteresseerd te hou in wat ons skryf.

Die volgende sewe afdelings delf dieper in die fynere besonderhede van taalgebruik in Engels: hier is leiding beskikbaar oor die gebruik van hoofletters, leestekens, afkortings, adresse, syfers en kolpunte. Ons het ook 'n afdeling ingesluit oor algemene grammatika-uitdagings in Engels. Die daaropvolgende afdeling, Legislation and case law, bied onmisbare leiding oor skryfwerk wat te make het met die reg, van die korrekte skryf van die naam van 'n wet tot die ontsyfering van regspraakverwysings. Die gids sluit af met 'n afdeling oor tegniese wenke en dek onderwerpe soos die gebruik van spoorveranderinge (track changes) in MS Word en die gebruik van die 'soek'-funksie in 'n PDF. Met betrekking tot meertalige taalondersteuning word gebruikers van die gids na twee aanlyn hulpbronne wat deur die Taalsentrum onderhou word, verwys:

Geraadpleegde bronne word aan die einde van die dokument gelys en in voetnote aangehaal. Daar is ook 'n lys bronne vir diegene wat aanvullende leeswerk sou wou doen. Die Style Guide is 'n werksdokument wat soos dit nodig is, bygewerk sal word. Die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie- en Bemarking is die eienaar van die publikasie. Stuur gerus enige kommentaar, voorstelle en navrae na content@sun.ac.za.

Die Taalsentrum werk tans ook aan institusionele stylgidse vir Afrikaans en Xhosa.