Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Belangrike inligting rakende Desember-gradeplegtighede

Beste kollegaDie Universiteit Stellenbosch (US) tref tans voorbereidings om die akademiese prestasies van duisende studente te vier wat in Desember 2023 sal gradueer. Die Desember-gradeplegtighede word van Maandag tot Vrydag, 11–15 Desember op Stellenbosch gehou. Die gradeplegtighede sal weer in die Coetzenburg-sentrum gehou word. Die volledige program en naamlys van graduandi sal van 11 Desember af op die US se webwerf gelaai word. Om die kennisgewing oor die gradeplegtighede te lees wat op 16 Oktober aan voornemende graduandi gestuur is, klik hier. Die formele uitnodiging word Woensdag 6 Desember aan graduandi gestuur.   Klik asseblief hier vir die volledige gradeplegtigheidskedule en groeptoewysings waar daar meer as een plegtigheid vir ’n spesifieke fakulteit is. Let asseblief daarop dat die eerste plegtigheid van die gradeweek Maandag 11 Desember om 13:00 begin en die laaste plegtigheid word Vrydag 15 Desember om 15:00 gehou. Personeelbywoning van gradeplegtighedeDie volgende ampsdraers en personeellede maak deel uit van die akademiese prosessie en die plegtigheid: 1. Kanselier2. Visekanselier en Rektor3. Viserektor(e)4. Bedryfshoof

5. Registrateur

6. Adjunkregistrateur(s)7. Dekaan of Dekane8. Visedekane9. Raadslede10. Die onderskeie supervisors/medesupervisors11. Akademiese personeel wat deel sal uitmaak van die akademiese prosessie12. Bykomende personeellede wat spesiale reëlings getref het vir die omhang van ’n familielid se graadband Omhang van die graadband van ’n graduandusAkademiese en professionele en administratiewe steundienste- (PASD-) personeel wat graag ’n familielid se graadband wil omhang, moet hulle versoek indien deur die RSVP-vorm teen Vrydag, 3 November om 17:00 in te vul. Let asseblief daarop dat dit net toegelaat sal word indien die graduandus ’n nabye familielid (byvoorbeeld seun, dogter, kleinkind, nefie, niggie, eggenoot) is wat gradueer. Klik hier om u versoek in te dien.  ToegangskaartjiesAangesien die populasiesertifikaat van die lokaal (’n wetlike vereiste) die aantal mense beperk wat op enige gegewe tydstip in die sentrum mag wees, word die US genoodsaak om ’n beperkte aantal toegangskaartjies per graduandi uit te reik.

  • Alle grade tot op honneursvlak mag twee (2) gaste uitnooi.
  • Op meestersvlak mag graduandi drie (3) gaste uitnooi.
  • Doktorale kandidate mag vier (4) gaste nooi. 

Toegangskaartjies vir graduandi en gaste sal teen Donderdag 7 Desember 2023 aan graduandi gestuur word. Gesinslede en vriende wat nie die geleentheid kan bywoon nie, kan die gradeplegtigheid aanlyn volg by www.sun.ac.za/streaming. Kaartjies kan gedruk word of op selfone gestoor word en moet by die deur getoon word. Let daarop dat hierdie reëling vir graduandi én gaste geld. Let asseblief daarop dat lede van die akademiese prosessie nie toegangs- en parkeerkaartjies sal ontvang nie. In plaas daarvan sal alle prosessielede in die Coetzenburg-sentrum se parkeerterrein parkeer. Klik asseblief hier om die parkeerkaart te sien. Indien u nog nie geantwoord het nie, bevestig asseblief u bywoning hier. Ons toegewyde sekuriteitspan sal die lys van prosessielede byderhand hê. Hulle sal toesien dat die toegangsproses vir alle betrokke partye glad verloop. OorlooplokaalDie lokaal se populasiekapasiteit (’n regsvereiste) beperk die aantal mense wat op enige gegewe tydstip in die Coetzenburg-sentrum mag wees. Daarom sal gaste wat sonder ’n toegangskaartjie by die Coetzenburg-sentrum opdaag, in twee oorlooplokale in die Sportwetenskapgebou gehuisves word.Personeellede – akademiese prosessieDaar sal akademiese drag in die portaal van die Coetzenburg-sentrum vir personeel beskikbaar wees wat deel uitmaak van die prosessie, maar wat nie hulle eie akademiese drag het nie. Let asseblief daarop dat hierdie togas onmiddellik na afloop van die gradeplegtigheid in die portaal terugbesorg moet word. U is welkom om u eie akademiese drag te dra. Personeellede wat aangedui het dat hulle aan die prosessie gaan deelneem, word versoek om 45 minute voor die aanvang van die plegtigheid in die portaal van die Coetzenburg-sentrum aan te meld vir die opstel van die prosessie. ParkeerreëlingsLede van die prosessie sal toegewysde parkeerplekke voor die Coetzenburg-sentrum ontvang. Let asseblief daarop dat hierdie toewysing slegs vir die duur van die gradeplegtigheid geld. Dissertasies van PhD-kandidateTen einde te verseker dat die verrigtinge glad verloop wanneer ’n doktorsgraad toegeken word, vestig ek graag u aandag op sekere van die proseduriële stappe. Klik asseblief hier vir die riglyne wat deur die Uitvoerende Komitee van die Senaat goedgekeur is ten opsigte van die verklaring wat gedurende die gradeplegtighede deur die promotor (of medepromotor waar van toepassing) gedoen word oor die dissertasie van hulle kandidaat. Ek vertrou dat hierdie riglyne u sal help om u taak by die toepaslike gradeplegtigheid te verrig. Vriendelike groete  Dr Ronel RetiefRegistrateur