Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie rakende die Universiteit Stellenbosch Biblioteek se opknappingsprojek

​Ons kondig met genoeë aan dat die Universiteit Stellenbosch Biblioteek in 2021 opgeknap sal word. Die projek word uit fondse van die Universiteit se Kampusvernuwingsprojek gefinansier. Die werk sal op 22 Februarie begin en behoort teen middel September 2021 voltooi te wees.

Die opknapping sal die installering van ʼn nuwe kliëntedienstoonbank, nuwe studentewerkruimtes, die herontwerp van die leesarea en nuwe meubels, vloere en toilette vir studente en personeel insluit. Die projek is beperk tot die suidelike deel van die boonste vlak van die US Biblioteek en sal nie in die Regsafdeling, Leersentrum, Spesiale Versamelings en die meerderheid personeelkantore plaasvind nie. Op die onderste vlak van die Biblioteek sal werk slegs aan die toilette gedoen word, en twee nuwe LAN-kamers sal daar gebou word.

Die bestaande fasiliteite en infrastruktuur sal opgeknap word om in kliënte se behoeftes te voorsien en ʼn moderne estetiek vir die US Biblioteek te skep, terwyl die integriteit van die bestaande gebou behoue sal bly. Die hooffokus van die projek is om aan kliënte gerieflike en doeltreffende ruimtes te bied en terselfdertyd benutting van die Biblioteek te vergemaklik.

Die werk sal in drie fases voltooi word om ontwrigting te beperk.

Fase 1 van die projek sal van 22 Februarie tot einde Julie 2021 plaasvind. Hierdie fase sal bestaan uit opknapping van die kliëntedienstoonbank, die reserwe-afdeling en verwante personeelwerkareas en personeeltoilette. Hierdie areas sal tydens die bouwerk versper word. Die sentrale deel tussen Spesiale Versamelings en die Regsafdeling (wat tans die Natuurwetenskappe- en AgriWetenskappe-versamelings, studentewerkareas, fakulteitsbibliotekarisse en rakke huisves) sal ook gesluit wees. Boeke en gedrukte vaktydskrifte van Natuurwetenskappe en AgriWetenskappe sal vir die duur van die projek nie beskikbaar wees nie. Die Regsafdeling, Spesiale Versamelings en toilette op die boonste vlak sal egter steeds toeganklik wees. Die Natuurwetenskappe- en AgriWetenskappe-fakulteitsbibliotekarisse sal tydelik na die Leersentrum verskuif word.

Daar sal ook met werk aan die toilette op die onderste vlak begin word, en daar sal geen toegang tot hierdie areas wees nie.

In hierdie fase sal rekenaarwerkstasies en die drukker op die boonste vlak verwyder word en kliënte sal versoek word om die Leersentrum of die rekenaarwerkstasies op die onderste vlak te gebruik.

Fase 2 begin op 26 Julie en sal teen 30 Augustus 2021 voltooi word. In hierdie fase sal die studentetoilette op die boonste vlak gesluit wees. Daar sal voortgesette werk in die sentrale deel van die boonste vlak gedoen word, waar nuwe studentestudie- en -werkareas geïnstalleer en rakke geskuif sal word. Nuwe vloere sal voltooi word en die rekenaarwerkstasies en drukker sal weer hier geïnstalleer word.

Fase 3 begin op 16 Augustus en sal teen einde September 2021 voltooi word. Die oorblywende bouwerk sal opknapping van die ingangsportaal, toegangsbeheer en ʼn nuwe sekuriteitsarea insluit. Die aangrensende leesarea asook nuwe werktafels vir studente langs die dubbelvolume-ruimte sal geïnstalleer word.

Tydens al die boufases sal deurlopende werk aan plafonruimtes en dienste vir data-aktivering plaasvind.

Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat tydens hierdie projek veroorsaak word. Wees egter gerus dat u ná die projek toegang sal hê tot gerieflike en doeltreffende ruimtes.

​Kontak Delene Pretorius vir verderde besonderhede oor die projek.

2 Februarie 2021