Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Trap die pedale!

Die week van 15 – 19 Oktober gee jou weer die kans om jou fietswiele te pomp en fiets te ry werk toe. Dit is Stellenbosch se vierde jaarlikse Ry Fiets Werk en Skool Toe (Bike to Work and School) veldtog.

Word deel van ‘n groot groep Stellenbossers wat reeds fietsry om by die werk te kom – hetsy om die verkeer te ontduik, vir gesondheid óf om parkeerprobleme te vermy.

“Universiteit Stellenbosch ondersteun hierdie inisiatief ten volle. Om die waarheid te sê, onderstreep dit ons jarelange veldtog om fietsry op kampus, en die groter dorp, aan te moedig. Fietsry vorm deel van ons groter Vervoerinisiatief, waar ons ons beywer om ons koolstofvoetspoor te verlaag en óók om parkering op kampus te bestuur,” sê dr. Barbara Pool, senior direkteur: Strategiese Inisiatiewe wat oorkoepelend verantwoordelik is vir sistemiese volhoubaarheid by die US.

Ter ondersteuning van fietsry as vervoermetode, was die US die eerste Suid-Afrikaanse universiteit wat fietse te huur aangebied het vir studente en personeel. Daar is tans bykans 500 maroen Matie Fietse. Kontak gerus die Matie Fietskantoor by fiets_bike@sun.ac.za indien jy belangstel om een te huur. 

Ry Fiets Werk en Skool Toe het ‘n wye verskeidenheid aktiwiteite beplan vir hierdie week, wat insluit oggend-koffiesessies by fietsvriendelike koffiewinkels, ‘n spesiale video wat gemaak word, ‘n spesiale fietskaart vir die dorp en ‘n halfprys Eikestadnuus as jy op Donderdagoggend 18 Oktober met jou fiets by die koerant se kantoor in Alexanderstraat opdaag. Vir meer aktiwiteite, besoek www.stellenboschfietsry.co.za

“Ons by die US is baie trots op wat ons reeds bereik het in terme van vervoer op ons kampusse. Ons is ook dankbaar vir die ondersteuning wat ons van personeel en studente in dié verband kry. Ons werk deurentyd saam met die munisipaliteit en belanghebbers van die dorp om ons planne en inisiatiewe verder te verfyn,” sê dr. Pool.

* Vir meer inligting oor al die vervoeraksies wat reeds op ons verskeie kampusse plaasvind, kliek hier.