Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wat kan ons uit argaïese DNS aflei oor die geskiedenis van die moderne mens?
Begin: 12/08/2021, 18:00
Einde: 12/08/2021, 19:00
Kontak:Wiida Fourie-Basson -
Plek: Online / Aanlyn

Science Café Stellenbosch nooi jou vriendelik uit na ons volgende aanlyn gesprek: "Wat kan ons uit argaïese  DNS aflei oor die geskiedenis van die moderne mens?" deur Dr Janet Kelso van die Departement van Evolusionêre Genetika, Max Planck Instituut vir Evolusionêre Antropologie, Leipzig, Duitsland.

Klik hier om te registreer

Meer oor die praatjie

Onlangse tegnologiese vordering het dit moontlik gemaak om DNS uit antieke beendere en ander weefseloorblyfsels wat by argeologiese uitgrawings gevind is, te onttrek en volgordes te bepaal. Oor die afgelope dekade het ons die genome van verskeie Neanderdalmense ge- gerekonstrueer en ook die genoom opgespoor van 'n voorheen onbekende, uitgestorwe Asiatiese hominin groep verwant aan Neanderdallers, wat ons “Denisoviane" noem. Hierdie genoomvolgordes bied 'n unieke geleentheid om die bevolkingsgeskiedenis van moderne mense en van ons uitgestorwe Neanderdalse en Denisoviaanse familielede te verken, en meer te wete te kom oor ons ooreenkomste en verskille. Ons het geleer dat die voorouers van sommige van ons met beide Neanderdallers en Denisoviane ingeteel het, in so 'n mate dat alle hedendaagse mense buite Afrika ongeveer 2% Neanderdal-DNS dra, en dat sommige bevolkings - hoofsaaklik in Oseanië - ook draers van Denisoviaan-DNS is. Hierdie ingeteelde DNS blyk beide positiewe en negatiewe uitkomste vir hedendaagse draers in te hou: aangepaste fenotipes soos byvoorbeeld aanpassings by hoë hoogtes bo seevlak, asook 'n invloed op immuniteit en siekterisiko. In onlangse werk het ons Neanderdal-haplotipes van argaïese oorsprong geïdentifiseer en die waarskynlik funksionele gevolge van hierdie haplotipes vasgestel deur gebruik te maak van openbare genoom, geenuitdrukking, en fenotipe-datastelle. Die argaïese genome het ons ook in staat gestel om die genetiese veranderinge te identifiseer wat uniek is aan moderne mense en nie met Neanderdallers of Denisoviane gedeel word nie. In voortgesette werk poog om vas te stel of enige van hierdie genetiese variante eienskappe kan onderlê wat kenmerkend van moderne mense is.

Meer oor die spreker

Janet Kelso is 'n Suid-Afrikaans gebore berekeningsbioloog en groepleier van die Minerva navorsingsgroep vir Bioinformatika by die Max Planck Instituut vir Evolusionêre Antropologie. In 1995 verwerf sy haar BSc-graad in biologie aan die voormalige Universiteit van Natal (nou UKZN), wat sy in 1997 opvolg met 'n HonsBSc-graad in mediese biochemie en in 2000 'n MSc in chemiese patologie van die Universiteit Kaapstad. In 2003 verwerf sy haar PhD in bioinformatika aan die Universiteit van Wes-Kaapland onder die studieleiding van professor Winston Hide en sluit in 2004 by die Max Planck Instituut aan. Sy het reeds verskeie toekennings en genootskappe ontvang, wat onder andere die AAAS Newcomb Cleveland Prize vir die mees uitstaande navorsingsartikel van 2010 in Science insluit, en in 2016 word sy as genoot van die internasionele vereniging vir berekeningsbiologie verkies.

Science Café Stellenbosch is 'n inisiatief van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit  Stellenbosch wat ten doel het om gesprekvoering oor wetenskapskwessies aan te moedig in 'n taal wat almal kan verstaan.

Volg ons op Facebook om op hoogte van gebeure te bly, of stuur 'n e-pos na science@sun.ac.za om op ons poslys te kom.