Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee US-dosente kry FLAIR navorsingsbeurse in Afrika
Begin: 25/04/2019, 12:00
Einde: 25/04/2019, 12:00
Kontak: -
Plek: stellenbosch

Dr Margreth Tadie, 'n dosent by die Departement Prosesingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), is een van 30 wetenskaplikes in Afrika wat pas aangewys is as die ontvangers van Future Leaders – African Independent Research (FLAIR)-navorsingsbeurse.

FLAIR is 'n twee-jaarprogram van die Afrika Akademie vir Wetenskappe (AAW) en die Koninklike Genootskap (Royal Society) en word deur die Verenigde Koninkryk se Global Challenges Research Fund (GCRF) ondersteun. Die program is ontwerp om talentvolle navorsers wat in 'n vroeë stadium in hul loopbaan is en wie se navorsing op die behoeftes van die vasteland fokus, te help om onafhanklike loopbane by instellings in Afrika en uiteindelik hul eie navorsingsgroepe te vestig. Elke navorser ontvang £300 000 (R5 472 003) oor die verloop van die twee-jaargenootskap om hulle te help met onafhanklike navorsing.

“Dit is 'n baie groot eer om hierdie beurs van hulle te ontvang. Hul doelwit is om navorsing in Afrika te ondersteun en om uitnemende navorsers in Afrika te help om leiers in hul vakgebiede te word. Ek is passievol oor die minerale hulpbronne in Afrika en wat hulle vir die vasteland kan beteken. Daar is so 'n ongelooflike rykdom in Afrika, maar as jy na die vasteland kyk, sien jy dat ons een van die armste vastelande in die wêreld is en ek is glad nie gelukkig daaroor nie. My hart lê regtig daarin om vas te stel hoe ons ons hulpbronne beter vir ons vasteland en ons mense kan aanwend."

Tadie sê sy besef dat die hierdie beurs 'n geweldige invloed op haar onderrig aan die US sal hê en sy hoop dat dit ook ander jong ingenieurs in Afrika sal aanspoor.

“Ek is baie bewus daarvan dat ek as vrou in die minderheid in die mynbou is, maar ek is so oop vir daardie uitdaging omdat ons meer rolmodelle nodig het. Terwyl ander vroue reeds baanbrekers was in ander bedrywe, is ek baie bewus van die feit dat ek die geleentheid om dieselfde te doen vir diegene wat ná my sal volg. Ons het meer vroue nodig wat dapper genoeg is om in te gaan en wat dapper genoeg is om baanbrekersnavorsing te doen, wat dapper genoeg is om op die myne te wees en goeie werk te doen. Ek hoop ook om ander deelagtig te maak aan my liefde vir verantwoordelike mynbou en ingenieurswese." 

Tadie se navorsingsprojek gaan spesifiek fokus op die afval wat deur goudmyne in Suid-Afrika agtergelaat is en sy wil 'n raamwerkstrategie ontwikkel wat volhoubare maniere om minerale te onttrek ondersoek, sodat minder afval in die proses gevorm word. Sy hoop dat hierdie raamwerkstrategie ook by ander myne aangewend sal word en dat dit uiteindelik beleidsverandering in mynbou teweeg sal bring.

In 2017 het Statistieke Suid-Afrika bevind dat die mynbedryf stadig besig is om op 'n jaarlikse grondslag af te neem. Die groot hoeveelheid mynafval wat agtergelaat word, het egter steeds 'n reuse-invloed op die omgewing in myngemeenskappe in Suid-Afrika en ook in die res van Afrika.

“Daar is tonne mynafval wat 'n nalatenskap van suksesvolle goudontginning is, maar daardie afvalshope neem spasie op en veroorsaak besoedeling. Dit het 'n groot uitwerking op die omgewing en hierdie projek is daarop gemik om maniere te vind en om 'n proses te ontwikkel om van hierdie afval ontslae te raak." 

 

Tadie se navorsing oor mynafval is nie net deur haar akademiese aspirasies aangespoor nie, maar haar diep persoonlike ervarings uit haar kinderjare op die stowwerige myne in haar geboorteland, Zimbabwe, het dit ook verder aangevuur.

“Op baie maniere is mynbou wie ek is. Ek het in 'n myngemeenskap grootgeword en vir die mense wat in hierdie gemeenskappe woon, is die myn hul lewensaar. Jou pa werk by die myn, jy werk by die myn, jou kinders werk by die myn en ongeag wat jou posisie is – of jy nou die laags- of hoogsbetaalde is, word die myn deel van jou. Hoewel ek nou in die akademie is en nie meer fisiek op die myn is nie, identifiseer ek steeds met die myn en ek hoop dat my navorsing sal help om mynbeleide in Afrika te verander."

Tadie se pa werk al vir meer as veertig jaar by die myn en sy sê die feit dat sy haar hele lewe lank al aan 'n mynbou-omgewing blootgestel is, het 'n reuse-invloed op haar besluit gehad om die negatiewe nagevolge van die bedryf te help verander.

“Ek het reg langs groot mynhope grootgeword en al daardie stof wat deur die fyn mynafval gevorm word en om in 'n omgewing te bly waar die plantegroei deur mynbedrywighede verniel is, het my by gebly. Sommige van die belangrikste negatiewe uitwerkings van mynbou kan voorkom word omdat baie van beleid en tegniese strategie afhang."