Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitgelese Rwandese pediater nou ’n ere-Matie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/12/2022

Die Universiteit Stellenbosch het die uitgelese Rwandese pediater, prof Agnes Binagwaho, by sy Desembergradeplegtigheid met 'n eredoktorsgraad vereer. Die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, is Dinsdag (6 Desember 2022) by 'n kontakgradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe in absentia aan haar toegeken.

Binagwaho is vereer vir haar visionêre leierskap as 'n nasionale en internasionale beleidvormer, haar toegewydheid tot 'n sterker openbare gesondheidsektor, haar baanbrekerswerk as kampvegter vir die regte van diegene wat met MIV leef, en die benutting van haar kennis om wetenskaplike én burgergerigte projekte in Afrika en verder van stapel te stuur. Sy het merkwaardige bydraes tot die verbetering van die gesondheid en welstand van mense in Rwanda en die res van Afrika gelewer.

Meer oor Binagwaho

Prof Agnes Binagwaho is in Rwanda gebore, maar het as kind na België verhuis. Hier verwerf sy later haar graad in die geneeskunde en spesialiseer in pediatrie voordat sy in 1996 – twee jaar ná die Rwandese volksmoord – na haar geboorteland terugkeer. Binagwaho het daarna verskeie hoëvlakregeringsampte beklee, waaronder dié van minister van gesondheid.

Sy is 'n onvermoeibare kampvegter vir die regte van diegene wat met MIV/vigs leef, en was van 2002 tot 2008 aan die stuur van die Rwandese Nasionale Vigsbeheerkommissie. Die kommissie het onder haar leiding die openbare, privaat en gemeenskapsektore laat saamwerk om beter MIV-sorg te voorsien, wat tot 'n 44% afname in MIV-verwante sterftes en die helfte minder nuwe infeksies gelei het.

Gedurende haar tyd as minister van gesondheid (2011–2016), het Rwanda se gesondheidstelsel aansienlik verbeter. Die land het bykans universele dekking met 'n nasionale gemeenskapsgesondheidsgebaseerde versekeringskema bereik en het groot afnames in moeder- en babasterftes asook 'n verhoging in lewensverwagting en kinderinentingsyfers ondervind.

Sy is die huidige visekanselier van die Universiteit vir Globale Gesondheidsbillikheid en senior dosent by Harvard. Boonop dien Binagwaho as 'n senior raadgewer vir die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie én as 'n lid van die Nasionale Akademie vir die Geneeskunde in die Verenigde State. ​