Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste skatting van Namibië se dolfynbevolkings
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 01/03/2021

Die Namibiese eilande se mariene bewaringsgebied (bekend as NIMPA), wat 25% van die algehele kuslyn van Namibië beslaan, en een van die grootste mariene bewaringsgebiede in Afrika is, is die tuiste van 'n groot bevolking van ongeveer 1 600 Heaviside se dolfyne en 3 500 Afrika-vaaldolfyne.

Dit is die bevindings van die eerste getalleskatting van die aantal dolfyne wat van hierdie area gebruik maak, sedert die NIMPA se totstandkoming in 2009. Hierdie bevindings is onlangs in die vaktydskrifte Frontiers in Marine Science en die African Journal of Marine Science gepubliseer. Klik hier​ vir 'n kort oorsig van die bevindings.

Die Namibiese eilande se mariene bewaringsgebied is geleë in die noorderlike Benguela-stroom se opwellingsgebied, een van die mees produktiewe mariene ekosisteme ter wêreld. Mariene bioloë van die Namibiese Dolfynprojek en die Namibiese Ministerie van Visserye en Mariene Hulpbronne, het die navorsing vanaf 2012 tot 2014 onderneem. 

Die span het van nuwe opname- en statistiese metodes gebruik gemaak om getalleskattings (bevolkingsgrootte) uit skeepsopnamedata te genereer. Die dolfyne is gevind deur 'n kombinasie van visuele waarnemings wat van die skip se dek af gemaak is, en deur middel van onderwater akoestiese opnames wat gemaak is van 'n stel  hidrofone (onderwatermikrofone) wat 400m agter die vaartuig gesleep is. Aangesien die meeste dolfyne baie op klank staatmaak – hulle maak bedags, sowel as snags gebruik van klank om hulself te oriënteer, kos te soek en vir kommunikasie, is hulle ideale kandidate vir akoestiese monitering. Hierdie hidrofoonopstelling was in staat om dolfynklanke waar te neem soos wat die navorsingskip deur hulle habitat beweeg het.

Dr Tess Gridley, mededirekteur van Sea Search en die Namibiese Dolpfynprojek én 'n mede-outeur, sê die vermoë om die teenwoordigheid van diere te identifiseer onderwyl hulle onderwater is, het die opsporingskoers verbeter en help om te verseker dat diere nie gemis word nie. Dr Gridley is 'n nadoktorale navorsingsgenoot in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch en 'n navorsingsgenoot by die Universiteit Kaapstad.

“Alhoewel die visuele opnamespan bedags baie effektief was, was die gesleepte hidrofoonopstelling ook in staat om diere waar te neem in swak weersomstandighede en snags wanneer visuele waarneming nie moontlik was nie. Dit het die opname baie meer koste-effektief en doeltreffend gemaak.  Die akoestiese opnamemetode het ook daartoe gelei dat navorsers Heaviside se dolfyne in baie dieper water waargeneem het as wat verwag is, wat nuwe insig bied oor hoe hierdie dolfyne die streek dag en nag gebruik," verduidelik sy.

Dr Morgan Martin, wat die studie onderneem het as deel van haar navorsing vir haar PhD-proefskrif by die Universiteit van Pretoria, sê die studie verskaf belangrike basislyninligting oor dolfyngetalle vir Namibië se enigste mariene bewaringsgebied, en dien as model vir die oorblywende Benguela-stroomekosisteem.

Dr Simon Elwen, mede-direkteur van die Sea Search en Namibiese Dolfynprojek, sê die uitvoer van hierdie tipe van projekte is fisies baie uitdagend: “Ons het 24 uur per dag die hidrofone en navigasie gemonitor, en dit op 'n kleinerige boot in redelike rowwe seewaters. Ons is egter baie tevrede dat ons nou uiteindelik die resultate kon publiseer.

Terwyl Namibië se dolfyne nie so erg deur byvangste of jagaktiwiteite benadeel word nie, was daar in die verlede groot veranderings in die ekosisteem, waaronder die ineenstorting van die sardienbevolking, en die toename in myn- en prospekteringsaktiwiteite: “Terwyl die aantal dolfyne in die NIMPA goed vergelyk met soorgelyke bevolkings in ander areas, het ons nie toegang tot historiese data nie. Dit is dus moeilik om te sê of die Namibiese bevolking verminder of vermeerder het," sluit die navorsers af.

Meer oor Heaviside se dolfyne en vaaldolfyne

Heaviside se dolfyne (Cephalorhynchus heavisidii) word slegs in die Benguela-ekosisteem aangetref aan die weskus van suidelike Afrika en strek van suidelike Angola tot by die Kaap van Goeie Hoop in Suid-Afrika. Hulle is een van die kleinste dolfyne op die planeet, kleiner as 'n mens (dus kleiner as 1,7m lank) en word tipies in groepe van gemiddeld drie tot vier individue waargeneem. Heaviside se dolfyne kom voor oor die vastelandsplat, wat varieer van vlak water aan die kus waar hulle maklik raakgesien word waar hulle in die branders speel, tot water van 100m diep. Hulle het tipies klein tuisgebiede, slegs ongeveer 20-50km kuslangs.

Vaaldolfyne (Lagenorhynchus obscurus) word in verskillende gebiede in die suidelike hemisfeer aangetref, primêr plekke naby Nieu-Seeland, Suid-Amerika, en die weskus van suidelike Afrika. Vaaldolfyne van die verskillende streke word as verskillende subspesies erken (in Suid-Afrika het ons Lagenorhynchus obscurus obscurus). Hulle hou in groter gebiede as Heaviside se dolfyne en tot by dieper water (tot ongeveer 500m diep) en word gewoonlik in groter groepe van 10 tot 30 (soms self meer), waargeneem.

As gevolg van hulle beperkte leefruimte met betrekking tot die kouewater Benguela-ekosisteem, word Heaviside se dolfyne, sowel as die vaaldolfyne gelys as spesies onder die walvisagtiges (walvisse, dolfyne, tornyne) wat die meeste kwesbaar vir klimaatsverandering is. Beide spesies is blootgestel aan baie ongekwalifiseerde menslike bedreigings wat interaksie met visvangbedrywighede soos byvangste, verandering in die beskikbaarheid van prooi, en mariene ekotoerisme insluit.

Wat ons weet van die gebruik van klank onder Heaviside se dolfyne en vaaldolfyne

Alle dolfyne gebruik klank om objekte, soos bv. vis, in hulle omgewings te vind en hierdie proses word eggolokasie genoem. Dit behels dat die dier 'n klank produseer waarna dikwels verwys word as ''n “klik", wat dan die teiken tref, wat op sy beurt weer 'n eggo produseer wat die dier dan hoor en prosesseer – en effektief die wêreld “sien deur middel van klank". Heaviside se dolfyne is een van slegs 13 spesies van getande walvisse en dolfyne wie se eggolokasieseine geskuif het en plaasvind in 'n ongelooflike hoë en nou frekwensieband rondom 130kHz (meer as ses keer hoër as die 20 kHz boonste limiet van menslike gehoor). Vaaldolfyne gebruik eggolokasie met klikke wat 'n baie groter reeks frekwensies insluit, van ongeveer 10kHz tot 200 kHz wat tot 'n mate oorvleuel met menslike gehoor. Aangesien die twee spesies eggolokasieklikke produseer wat verskil van mekaar, kan navorsers vasstel watter spesies hulle onderwater opneem, selfs sonder visuele bevestiging van die diere.  

Die twee artikels is aanlyn beskikbaar:  

Nota aan die redakteurs

  • Oor Heaviside se dolfyne en vaaldolfyne – neem asseblief kennis van die korrekte hooflettergebruik hier. Slegs Heaviside moet met 'n hoofletter geskryf word.
  • Skakels na die navorsers se webwerwe:

http://www.namibiandolphinproject.org/

http://seasearch.co.za/

https://www.facebook.com/NamibianDolphinProject/

https://www.instagram.com/namibiandolphinproject/

https://www.youtube.com/channel/UC1XAeXNtkpFPEvAAfVjk_ag

 https://www.facebook.com/LuderitzMarineResearch

Oor die outeurs

Dr Tess Gridley

Dr Gridley is 'n nadoktorale navorsingsgenoot by die Universiteit Stellenbosch en 'n navorsingsgenoot by die Universiteit Kaapstad, Suid-Afrika. Sy is die stigter van die Africa Bioacoustics Community en mededirekteur van Sea Search, Namibiese Dolfynprojek.

E-pos: Nam.dolphin.project@gmail.com

Dr Morgan Martin

Hierdie navorsing was deel van Dr Morgan J. Martin se navorsing vir haar PhD-proefskrif wat gedoen is by die Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika. Sy werk tans as nadoktorale navorser vir Kanada se vereniging vir die bewaring van die natuurlewe, en die Universiteit van Victoria in Kanada.

E-pos: mjmartin@sandiego.edu