Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW loods eerste nagraadse diploma in toksikologie in Afrika
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Anina Visser
Gepubliseer: 23/02/2021

In Januarie 2021, het die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) 'n nuwe nagraadse diploma in Mediese Toksikologie van stapel gestuur. Hierdie diploma, die eerste nagraadse diploma in Mediese Toksikologie in Afrika, is 'n belangrike mylpaal vir beide die universiteit en die breëre gesondheidsorg-gemeenskap.

Die afgelope paar jaar was daar 'n groeiende behoefte binne akademiese kringe en in die gesondheidsorgindustrie aan kenners op die gebied van mediese toksikologie – die gebied van geneeskunde wat gewy is aan die evaluering en die behandeling van pasiënte wat aan gifstowwe blootgestel is – hetsy van biologiese of minerale oorsprong. In reaksie op hierdie behoefte, was die Departement Kliniese Farmakologie suksesvol met die ontwikkeling en die daarstelling van die nagraadse Diploma in Mediese Toksikologie.

'n Fokus op die gifstowwe uniek aan Afrika

“Daar is tans 'n tekort aan opgeleide personeel met kennis van vergiftiging, veral van vergiftiging deur middel van gifstowwe wat uniek is aan die kontinent van Afrika," sê Carine Marks, direkteur van die Tygerberg Gifinligtingsentrum. “Die voorgenome program in toksikologie is daarop gemik om die behoefte aan opleidingsgeleenthede aan te spreek binne hierdie wetenskaplike veld, beide in Suid-Afrika, en in die breër kontinent van Afrika."

Die aansoekproses om hierdie diploma in te stel, het in 2016 begin, volgens Marks. Tot en met daardie tydstip is toksikologie slegs as vak aangebied aan voorgraadse studente in die BSc Fisioterapie en die MBChB-programme, maar van hierdie jaar vorentoe sal hierdie studieveld ook beskikbaar wees aan nagraadse studente.

“Kandidate wat die kursus voltooi sal oor die praktiese vaardighede beskik om te help met die diagnose en bestuur van pasiënte wat aan gifstowwe blootgestel is," het Marks verduidelik. “Hulle sal in mediese fasiliteite werksaam wees waar hulle raad kan bied aan ander gesondheidspersoneel oor die bestuur van pasiënte wat aan gifstowwe blootgestel is."

Die toelatingskriteria vir hierdie 18-maandelange kursus is 'n BSc of MSc-kwalifikasie (NQF Vlak 7 of hoër) van 'n geakkrediteerde inrigting soos deur die FGGW goedgekeur. Hierdie jaar se klas van 21 studente bestaan byvoorbeeld bestaan onder andere uit mediese dokters, mense met doktorsgrade, biomediese tegnoloë, aptekers, pediaters en spesialiste in kritieke sorg. Buiten die feit dat die diploma 'n aantreklike geleentheid bied aan gekwalifiseerde gesondheidspersoneel, is die oogmerk ook om studente uit ander Afrika-lande te bereik om sodoende 'n diverse studente-gemeenskap te betrek wat tot die voordeel van die hele kontinent sal wees.

Spinnekoppe, slange en skerpioene van naderby bekyk

Volgens Marks, gaan een van die hoogtepunte van die kursus waarskynlik die vyfde en finale module wees, wat sal fokus op die blootstelling aan biologiese gifstowwe soos die wat mens vind in die gif van slange, spinnekoppe, en giftige plante. “Ons beplan ook om hierdie module beskikbaar te maak as 'n kort kursus," het sy gesê.

Alhoewel hierdie nagraadse diploma die eerste in sy soort is, word dit ondersteun deur goed gevestigde inrigtings soos die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg Gifinligtingsentrum. Opleiding was nog altyd 'n sentrale fokuspunt vir hierdie sentrum.

In 2018, was Marks deel van die internasionale span wat die volgende dokument opdateer het: World Health Organisation's Guidelines for Establishing a Poison Centre. Samewerking binne die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het ook die Tygerberg Gifinligtingsentrum verder daartoe in staat gestel om 'n samewerkende rol te speel in die verskaffing van leiding in innoverende toksikologie-opleiding en navorsing. “Suid-Afrika het 'n regsverbindende globale ooreenkoms om openbare gesondheid te beskerm. Ons gifinligtingsentrum het 'n verpligting om gevalle van vergiftiging op te spoor en daarop te reageer, en om die WGO daarvan in te lig indien die impak daarvan op openbare gesondheid moontlik ernstig, ongewoon is, of met opset gepleeg is, en of daar 'n beduidende risiko is dat dit kan versprei of losgelaat word, met die gevolglike sterk potensiaal om oor nasionale grense heen te versprei."

Teen die agtergrond van hierdie internasionale samewerking en vindingrykheid, belowe die kursus om wêreldklas-opleiding te verskaf aan studente wat graag hulle kennis wil uitbrei op die baie belangrike gebied van toksikologie. Vir verdere inligting, kontak die programkoördineerder en voorsitter, Carine Marks: carinem@sun.ac.za

 

Onderskrif: Carine Marks, Arina Du Plessis, Tracy Kellerman, Alma van der Merwe, Victoria Mathane en Cassius Phogole is van die dosente wat die nuwe nagraadse diploma in toksikologie sal aanbied.

Foto-erkenning: Wilma Stassen