Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gemeenskap speel belangrike rol in suksesvolle aktiewe TB-waaktoesig
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 02/12/2020

Die suksesvolle implementering van aktiewe tuberkulose- (TB-)waaktoesig in hulpbronarm gebiede van Suid-Afrika vereis 'n veelsydige benadering wat om noue samewerking tussen gesondheidsorgowerhede en geaffekteerde gemeenskappe draai, sowel as bykomende ondersteuning vir gemeenskapsgesondheidswerkers (GGW's).

Dít is een van die hoofbevindinge van 'n onlangse studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Ongeveer 150 000 TB-gevalle bly jaarliks ongediagnoseer in Suid-Afrika. Om daardie gevalle te identifiseer vereis die implementering van aktiewe TB-waaktoesig, wat 'n beleid is van die nasionale gesondheidsdepartement," sê dr Febisola Ajudua, 'n huisarts in Ibhayi naby Port Elizabeth. Sy is ook verbonde aan die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die US, sowel as die Departement Huisartskunde en Landelike Gesondheid van Walter Sisulu Universiteit.

Dr Ajudua en die US se prof Bob Mash het onderhoude gevoer met provinsiale en distriksbestuurders van die Oos-Kaapse TB-program om die uitdagings vir die implementering van aktiewe TB-waaktoesig in daardie provinsie beter te verstaan. Die Oos-Kaap het die hoogste TB-voorkomssyfer in die land.

Die bevindinge van hulle studie het onlangs in die ooptoegangtydskrif PLOS ONE verskyn.

​“Ons het met die bestuurders van die Oos-Kaapse TB-program gesels, want ons glo hulle sienings van aktiewe waaktoesig, en van die belangrike rol wat dit speel om die TB-epidemie te beëindig, sal ons die kontekstuele instaatstellers en uitdagings eie aan die streek help verstaan," sê Ajudua.

“Ons ervaring was dat bestuurders die gedagte van aktiewe TB-waaktoesig in gemeenskappe ondersteun. Tog het hulle gesê dit word aan bande gelê deur begrotingstekorte, ongelyke hulpbronverdeling tussen landelike en stedelike gebiede, en die ondoeltreffende koördinering van bestaande hulpbronne wat tussen die regering en nieregeringsorganisasies verdeel word."

Volgens Ajudua het die bestuurders 'n teenstrydigheid uitgewys tussen die getal mense in hoërisikogemeenskappe wat gedurende sifting TB-simptome toon, en die getal pasiënte wat by gesondheidsorgfasiliteite vir TB getoets word.

“Die bestuurders het hulle bedenkinge oor of hulle in hulle doelwitte met TB-sifting slaag, en reken die hoofprobleem is dat die verskillende rolspelers nie hulle aktiwiteite goed genoeg koördineer nie. Hulle is oortuig dat fasiliteitsgebaseerde sifting 'n kernkomponent is om die doelwitte van die nasionale TB-program te bereik.

“Bestuurders het ook 'n behoefte uitgespreek aan meer skakeling met gemeenskapsleiers en GGW's, die behoud van uitreikspanleiers in landelike distrikte, en aandag aan die onderliggende maatskaplike bepalers van gesondheid deur tussensektorsamewerking om TB-oordrag te verminder.

​“Daarbenewens het hulle klem gelê op die belangrike rol van GGW's om pasiënte in gemeenskappe op te spoor en te sif, ondanks uitdagings soos swak koördinering en die duplisering van dienste, 'n gebrek aan vervoer, 'n tekort aan ondersteunende toesig en veiligheidskwessies."

Ajudua sê die bestuurders het uitgewys dat sommige distrikte wél voldoende steun ontvang van wyksgebaseerde primêresorguitreikspanne, en dat die provinsiale gesondheidsdepartement 'n eenvormige opleidingskurrikulum en mentorskapsgeleenthede vir alle GGW's ontwikkel het. Dít het tot dusver tot die sukses van die gemeenskapsgebaseerde dienste bygedra. Benewens innovasies om sifting te verbeter, is daar ook strategieë om GGW's se vermoë te bou, voeg sy by.

Ajudua sê aktiewe TB-waaktoesig behoort ondersteun te word deur voldoende gemeenskapskakeling en -samewerking. Indien die gemeenskap GGW's se belangrike rol aanvaar en verstaan, sal dit veiliger werksomstandighede vir dié werkers teweegbring.

“Gesondheidshervorming maak hoofsaaklik staat op 'n gemeenskapsgerigte primêresorgbenadering. So 'n benadering kan gesondheid help bevorder, siekte voorkom en opspoor, vroeë diagnose van infeksiesiektes moontlik maak, en GGW's in staat stel om maatskaplike én gesondheidsprobleme in gemeenskappe met minder hulpbronne die hoof te bied."

Sy sê hoewel die studie op die Oos-Kaap gekonsentreer het, kan van die bevindinge ook op soortgelyke omgewings in ander dele van die land toegepas word.

​SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Febisola Ajudua

Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Universiteit Stellenbosch

E-pos: febijudus@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za