Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TygerMaties 3D-druk beskermingstoerusing in geveg teen COVID-19
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 07/04/2020

Toe die Afdeling van Ortopediese Chirurgie by Stellenbosch Universiteit (SU) omtrent twee jaar gelede 'n 3D-drukker laboratorium begin het om chirurge te help om chirurgiese prosedures te beplan en te oefen, het hulle geen idee gehad dat die laboratorium eindelik in 'n pandemie sou gebruik word nie.

Dit is egter wat tans gebeur met studente en personeel wat lang ure werk om 3D-gesigskerms te druk en aanmekaar te sit, sodat dit as beskermende drag versprei kan word vir gebruik aan mense wat in die frontlinie werk terwyl hulle die COVID-19-krisis beveg.

Dr Rudolph Venter, 'n ortopediese chirurg en dosent in Kliniese Anatomie by die SU se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het met die idee vorendag gekom nadat die virus in Suid-Afrika uitgebreek het.

“Ek het skielik gewonder waarom kan ons nie die 3D-drukker laboratorium ten goede gebruik deur een of ander vorm van beskermende drag te maak vir die gesondheidswerkers wat met pasiënte werk nie?" het Venter gesê. Na konsultasies met die bestuur van die Tygerberg-hospitaal, is gesigskerms as 'n onmiddellike behoefte geïdentifiseer.

“Daar is 'n groeiende gemeenskap van mense dwarsoor die wêreld wat 3D-drukkers en lasersnyers gebruik om toerusting vir gesondheidswerkers te vervaardig. Hulle deel hulle ontwerpe en verfyn bestaande ontwerpe, en deel alles gratis aanlyn – dis baie mooi om te sien," het Venter gesê.

Hy en sy span het 'n ontwerp afgelaai wat aan 'n verskeidenheid van kriteria voldoen het, en het begin om bronne na te spoor wat die nodige materiale sou kon lewer om die gesigmaskers te vervaardig.

“Die kopstuk bestaan uit 'n plastiek kopband waaraan 'n deursigtige skerm vasgemaak word. Daar is 'n rek waarmee dit aan die draer se kop vasgemaak kan word. Ons het plaaslike verskaffers genader wat plate deursigtige plastiek, asook rek verkoop het, en ons het 'n paar rolle 3D drukkers-filament gebruik wat ons in die laboratorium in voorraad gehad het."

Die hoof van die Afdeling Ortopediese Chrirurgie, professor Jacques Du Toit, het befondsing beskikbaargestel om van die materiaal aan te koop en die proses aan die gang te sit.

“Ons het vinnig besef dat ons nie met een drukker veel van 'n verskil sou kon maak nie, dus het ons toe die SU se Fakulteit van Ingenieurswese genader, en professor Kristiaan Schreve, die hoof van Meganiese Ingenieurswese, was vrygewig genoeg om al die 3D-drukkers waarsonder hulle kon klaarkom, tot ons beskikking te stel," het Venter gesê.

Dit het nie lank geduur nie, of Venter het ook 'n netwerk van vrywilligers gehad wat dieselfde ontwerp op hulle 3D-drukkers by die huis vervaardig het. 'n Plaaslike ingenieursfirma, Rapid 3D, het meer as 10 rolle filament en ander benodigdhede geskenk vir die drukkers wat vir hierdie projek in gebruik is. 'n ander skenking was van die Curro-skole se hoofkantoor, wat meer as 20 van die gesigskerms geskenk het.

Venter het toe vir Luné Smith gekontak: sy is 'n vyfde-jaar mediese student wat, saam met mede-student Abdul-Mutakabit Aziz gehelp het om 'n student-vrywilliger inisiatief te loods toe die pandemie in Suid-Afrika uitgebreek het. Honderde mediese studente en gesondheidswetenskap-studente het gekies om hulle vrye tyd te gebruik om hulle deel te doen om die virus te help beveg.

Smith bestuur die WeFightBack COVID-komitee, wat betrokke is by vyf studente-projekte: van 'n gemeenskapsprojek waar maskers gemaak word, tot die maak van spasieerders vir afgemete-dosis inhaleerders om te gebruik in plaas van verstuiwers om COVID-19 pasiënte te behandel, tot 'n ondersteuningsprojek vir mense in sogenaamde kangaroe-moedersorgeenhede en lodger areas, asook 'n opvoedingsinisiatief wat met die virus te make het.

Smith en haar span het die logistiek van die 3D-drukkersprojek oorgeneem, bo en behalwe hulle ander projekte.

“Ons verrig al die klein takies, soos om die plastiek af te lewer vir die gemeenskapsvrywilligers wat die maskers druk; ons tel die gedrukte maskers op; ons gaan haal die materiale waarmee die gesigskerms gemaak word, en ons sit hulle ook aanmekaar – ons sny hulle uit, meet hulle, en sit die uiteindelike produk aanmekaar," het sy gesê.

Die studente wat die gesigskerms vervaardig werk in die ortopediese chirurgie-departement, in skofte van vier of vyf mense op 'n slag sodat hulle die nodige sosiale distansiëring kan handhaaf.

“Na ons voorraadopname op 6 April, is ons trots om te kan aankondig dat 134 gesigskerms gereed is vir gebruik, en daar is meer oppad," het Smith gesê.

“Luné en haar span het die hele produksielyn oorgeneem. In der waarheid is die hele projek deur studente, personeellede en gemeenskapslede oorgeneem wat 3D-drukkers by die huis het, en wat via sosiale media uitgevind het hoe hulle ons kan help om hierdie gesigskerms te maak, en hulle dan aan ons te skenk. Dit is werklik inspirerend om te sien hoeveel insiatief hierdie studente getoon het, en ook om te sien hoe hard hulle werk," het Venter gesê.

Smith sê dit voel "surrealisties" om saam te werk in die middel van 'n pandemie.

Sy sê die kameraderie onder die studente is "pragtig" om te sien. Dit is werklik ongelooflik om die spanwerk te aanskou tussen beide die studente en die personeellede.

“As 'n land het ons veels te veel tyd gemors deur mekaar seer te maak. Ons bevind ons nou op 'n plek waar ons vir mekaar omgee en waar ons mekaar help. Die pandemie dwing ons om saam die probleem in die gesig te staar. Ons is almal dieselfde. Dit voel net reg," het sy gesê.

Onderskrif: Vyfde jaar mediese student, ​Luné Smith (regs), werk in die 3D-druk laboratorium saam met ander TygerMaties student-vrywilligers.