Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Honderde TygerMaties-vrywilligers in die geveg teen COVID-19
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 03/04/2020

Talle geneeskunde- en gesondheidswetenskappe-studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Tygerberg-kampus wou niks hoor van die beroep om huis toe gaan toe die US in Maart ʼn vroeë vakansie aangekondig het om aan die ministeriële riglyne ten opsigte van die Covid-19-uitbreking te voldoen nie.

Pleks daarvan het honderde voorgraadse studente aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) besluit om hul vakansie op te offer om die uitbreking te beveg.

“Ek wou bly en ʼn verskil maak en help waar ek ook al kon," het Cameron Fourie, ʼn tweedejaar- mediese student wat tans in die Covid-19-naspeursentrum op die Tygerberg-kampus werk, gesê. Cameron is een van sowat 360 TygerMaties wat hul dienste aangebied het in Suid-Afrika se stryd teen Covid-19.

“Ek het nooit 'besluit' om as vrywilliger te dien nie. Ek het 'geweet' ek wou daar wees om te help," het Elsjé-Marie Geldenhuys, ʼn mediese student in haar sesde jaar, verduidelik. “As toekomstige gesondheidsorgwerkers is dit in ons aard om te help – dis wie ons is."

Sheryl Marshall, ʼn intern, het saamgestem: “Om my dienste vrywillig aan te bied was die natuurlikste ding op aarde. Ek het gevoel ek wil regtig bly en help – veral wanneer so ʼn reuse-gesondheidskrisis ons in die gesig staar." Sheryl help om pasiënte in die Tygerberg-hospitaal se inwendige geneeskundesale te versorg, wat beteken meer dokters en vepleegkundiges is beskikbaar om Covid-19-pasiënte te versorg.

“Die studente doen dit uit hul eie vrye wil. Die Hospitaal en Universiteit het nooit vir hulp gevra nie. Hulle het dit self besluit en ons is so dankbaar vir hulle hulp," het dr Suretha Kannenberg, ʼn lektor in die Afdeling Dermatologie aan die FGGW, gesê. Sy help tans met die bestuur van vrywillige dienste by die FGGW en die Tygerberg-hospitaal.

Die studente-vrywilligers help op verskeie gebiede en word van die nodige opleiding en beskermende toerusting voorsien. Hulle kry ʼn griepinenting voor hulle toegelaat word om in die hospitaal te help en werk onder die toesig van senior gesondheidsorgpersoneel.

Tans werk 70 studente in die Tygerberg-hospitaal se siftingsarea. “Hulle doen alles, van onderhoude met pasiënte tot administratiewe take," het Kannenberg gesê. Nog 20 studente sif mense by die  ingange van die hospitaal en spuit hulle met handreiniger.

Vyftien studente werk by die Kontak-naspeursentrum op die Tygerberg-kampus, waar hulle help om positiewe gevalle telefonies na te speur. Nog 115 studente doen diens by die Nasionale Covid-19-hulplyn.

In die inwendige geneeskundesale help 70 studente met die dag-tot-dag funksionering van die hospitaal. “Dit is senior studente wat byvoorbeeld bloed trek, pasiënte op ʼn binneaarse drup te plaas en ander take verrig wat hulle in elk geval as deel van hul kliniese opleiding sou gedoen het," het Kannenberg verduidelik.

Studente versamel ook data en verwerk statistiek vir die Afdeling Epidemiologie en Biostatistieke van die FGGW, terwyl ander data by die Afdeling Mediese Virologie versamel.  

“Die studente is so professioneel en wil so graag help. Met die skielik toename in kliniese en administratiewe pligte by die hospitaal, het die studente se hulp dokters en verpleegkundiges vrygestel om ander lewensreddende take te verrig," het Kannenberg gesê.

“Ek geniet die baie om aan die spits te wees en pasiënte by Ingang 5 van die Tygerberg-hospitaal te sif. Dit voel asof ek iets aan die gemeenskap teruggee," het Abdul-Baasit Isaacks, ʼn mediese student in sy vyfde jaar, gesê. Hy gee toe dat vrywillergswerk ʼn risiko vir hom inhou omdat hy asma het en die korona-virus berug is dat dit die longe aantas en asemhalingsprobleme veroorsaak.

“Ek is ʼn bietjie bang," het Elsjé-Marie, nog ʼn asma-lyer, erken. “Maar die vrywilligerswerk het vir my ʼn doelwit in hierdie onseker tyd gegee en laat my voel asof ek deel is van iets groter as myself."

“Dis opwindend, maar ook ʼn bietjie vreesaanjaend," het Sheryl gesê. “Net om by die hospitaal uit te kom ontlok angs. Daar is weermag-mense met wapens en ek word minstens ses tot sewe keer voorgekeer om my permit te toon voor ek eens kan begin werk. Jy weet ook dit gaan erg raak, maar jy weet nie wanneer nie of hoe dit presies gaan verloop nie," het sy erken.

Nogtans sou sy dit nie anders wou hê nie. “Daar is ʼn wonderlike gevoel van kameraderie in die hospitaal en dis wonderlik om te sien hoe dokters, verpleegkundiges, skoonmakers en al die res saamstaan en die pandemie as ʼn span beveg."

“Ons is so trots op ons studente-vrywilligers wat dag ná dag in groot getalle opdaag om stryd teen Covid-19 op te neem," het prof Jimmy Volmink, dekaan van die FGGW, gesê. “Die moed, toewyding, deernis en kameraderie wat hulle in die aangesig van gevaar en lyding toon, is baie inspirerend. Dit ly geen twyfel dat hierdie studente die wese van gesondheidsorg as ʼn roeping waarlik gesnap het nie."

Volgens prof Heike Geduld, Hoof van die Afdeling Noodgeneeskunde aan die FGGW, kry sy wonderlike terugvoer oor die studente van hospitaalbestuurders, openbare gesondheidspesialiste en rampbestuurspanne. “Selfs tydens die inperking het die studente na vore gekom, is hulle georganiseerd en toegewyd en was hul houding jeens diens fantasties.

“Hul toewyding is werklik inspirerend. Hulle maak my optimisties oor die toekoms van gesondheidsorg in Suid-Afrika," het sy afgesluit.