Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se verlengde graadprogram open baie deure vir graduandi
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 13/12/2019

Nie minder nie as 42 graduandi wie se akademiese potensiaal danksy die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan Universiteit Stellenbosch (US) se Verlengde Graadprogram (VGP) ontsluit is, het vandeesweek hul kwalifikasies by die Universiteit se Desember 2019-gradeplegtighede ontvang.

Van die 42 VGP-graduandi het 19 van die studente onderskeidings tydens hul studiejare aan die US behaal. Een van hierdie studente, Tammy Jefthas, het 18 onderskeidings behaal en beplan om volgende jaar 'n MA-graad in Geografie en Omgewingstudies te doen.

“Die VGP is 'n wonderlike geleentheid – nie net om 'n graad te verwerf nie, maar ook op baie ander gebiede. Die program ontgin studente se potensiaal – en soms word 'n student se potensiaal raakgesien nog voordag die student dit self besef. My studierigting het aan my die geleentheid gegee om huidige dringende geografiese kwessies te ondersoek en my visie is om my kennis te gebruik om 'n verskil in die samelewing te maak," sê Jefthas.

Die US het die VGP in 2008 bekendgestel om sistemiese struikelblokke tot gelykheid en studentetoegang te oorkom en om studente met bykomende akademiese ondersteuning by te staan.

Alex Zeeman, wat nie minder nie as 16 onderskeidings gedurende haar voorgraadse studies behaal het, beskryf die VGP as 'n “lewensredder" nadat sy swak gevaar het in matriek. “Ek het gedink my lewe is oor, maar die les wat universiteit my geleer het, is dat jy sterker is as wat jy dink."

Vir Vuyolwethu Qinela, wat nege onderskeidings behaal het gedurende haar studies, het die program haar nie net gehelp om akademies uit te blink nie, maar het dit ook aan haar die geleentheid gegee om oorsee te gaan as deel van 'n uitruilprogram.

“Ek was 'n gemiddelde leerder op skool, so ek het nooit gedink dat ek meer kon bereik as om maar net te slaag nie. Ek glo die Verlengde Graadprogram het my 'n voordeel bo hoofstroomstudente gegee in die sin dat ek fondasiemodules kon doen wat alle onderwerpe van die meeste sosiale wetenskappe-modules gedek het, terwyl ek terselfdertyd ook my kritieke denkvaardighede kon opskerp," sê Qinela.

Tamaryn Taylor Fourie van Eersterivier sê een van die hoogtepunte van studentwees vir haar was al die deure wat vir haar geopen is en dat sy baie geleenthede gekry het. “Van die ongelooflike hoogtepunte sluit onder meer in dat ek in 2017 die geleentheid gekry het om na Johannesburg te reis om die Universiteit by die Wieg van die Mensdom te gaan verteenwoordig as deel van die Allan Gray Orbis-stigting. Ek kon met eendersdenkende individue skakel en my netwerk uitbrei. In 2018 is ek by die Golden Key International Honour Society ingelyf," vertel Fourie.

Verder het Fourie ook die geleentheid gehad om die Eberhard Karls-universiteit in Tübingen, Duitsland as 'n internasionale student te besoek. Hierdie universiteit is een van die US se vennoot-instellings.

Deur die VGP kon Fourie ook 'n verskil in talle ander se lewens maak, aangesien sy 'n mentor en  senior mentor vir eerstejaar VGP-studente, asook klasverteenwoordiger op die PSO-komitee en 'n lid van talle ander verenigings en organisasies op die kampus was.

VGP- en hoofstroomstudente verwerf dieselfde grade ná voltooiing van hul voorgraadse studies. Die enigste verskil is dat die VGP-studente hul eerste jaar oor twee jaar doen. Bo en behalwe hul hoofstroomvakke, ontvang VGP-studente bykomende akademiese ondersteuning en volg hulle sekere verpligte modules wat hulle beter voorberei op hul voorgraadse studie. Dit sluit in Tekste in die Geesteswetenskappe, Inligtingsvaardighede en Inleiding tot die Geesteswetenskappe.

Die program is gemik op studente wat 'n gemiddelde van 60–64,9% in hul Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen behaal het en graag 'n B-graad wil verwerf. Uitgebreide buitemuurse ondersteuning is ook in die akademiese aanbieding ingebou om studente se kanse op sukses nog verder te verbeter.

Voornemende studente wat meer oor die VGP wil uitvind, kan die VGP-webtuiste besoek by http://www.sun.ac.za/afrikaans/faculty/arts/edp/Pages/default.aspx?TermStoreId=d4aca01e-c7ae-4dc1-b7b2-54492a41081c&TermSetId=6e585cca-bf2e-43c9-bd03-d0e0c3d7a80e&TermId=3f662853-bb11-4d1d-93d5-9f08eda84112.

In die foto van links, Vuyolwethu Qinela, Tamaryn Taylor Fourie en Alex Zeeman. 

Foto deur Stefan Els.