Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hulp vir koorseuns met brekende stemme
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/05/2019

Koorseuns wie se stemme gedurende puberteit begin breek, sukkel soms om die regte te noot haal. Dit skep 'n dilemma vir koordirigente wat nie altyd weet of die seuns moet aanhou sing of eerder vir 'n rukkie moet ophou nie. Eenvoudige stemoefeninge kan egter help om hierdie probleem te oorkom.

“Navorsing het getoon dat seuns gedurende hul adolessentejare kan aanhou sing indien hulle eenvoudige stemoefeninge onder toesig doen en dit sal ook tot hul voordeel strek as volwasse sangers," sê Xander Kritzinger, musiekonderwyser en koorleier by die Hoërskool Stellenbosch. Hy het onlangs sy meestersgraad in Musiek aan die Universiteit Stellenbosch behaal.  

Kritzinger het bestaande navorsing deur Amerikaanse en Europese stemspesialiste en stem- en koorpedagoë oor sangers wat hul puberteit bereik en die kwessie of hierdie seuns toegelaat moet word om te sing, of eerder hul stemme moet laat rus, in diepte bestudeer.

“Aangesien die veranderende seunstem een van die mees problematiese aspekte vir jong koorsangers is, was die oogmerk van my navorsing om Suid-Afrikaanse koordirigente en -pedagoë te help om 'n basiese begrip te kry van hoe hulle stemoefeninge kan gebruik om stemverandering by jong seuns te bestuur."

Kritzinger sê ondanks Suid-Afrika se ryk, sterk en lewendige koorkultuur, word min klem op stemwelstand en die ontwikkeling van jong sangers geplaas.

“Die kwessie van hoe om jong seuns wie se stemme gedurende puberteit verander, in 'n koorsituasie te hanteer, het tot dusver nog minder aandag gekry."

Die navorsing raak Kritzinger ook persoonlik. “Ek het in kore grootgeword en was 'n leerder by die Drakensberg Seunskoorskool. Gedurende hierdie tyd het my stem begin verander en ek het met die tegniese sy van sing gesukkel.Xander.jpg

“Dit is vir my belangrik om met jong sangers, veral seuns wie se stemme verander, te werk. Net soveel as wat ek verlief geraak het op die navorsingsproses, sal die kinders met wie ek werk, ook kan baat vind by my navorsing."

Kritzinger sê sy bestudering van die literatuur het getoon dat die moderne benadering is om tienerseuns te laat aanhou sing gedurende puberteit wanneer hul larinks – wat bokant die lugpyp in die nek en voor die slukderm geleë is – aansienlik verleng en verdink. Die larinks beheer toonhoogte en klanksterkte.

“Die bevindinge toon dat die meeste navorsers sang gedurende puberteit aanmoedig en ook sekere stemoefeninge aanbeveel wat seuns in kooroefenareas kan doen.

“Dit is algemene oefeninge wat stemwelstand bevorder. Hierdie voorbeelde begin met oefeninge vir verbeterde asembeheer as die grondslag vir behoorlike vokalisasie, gevolg deur oefeninge om gesonde klinkerplasing te bevorder en vir die suksesvolle vermenging van die ou hoër seunstem met die nuwe, laer stem.

“Sommige van hierdie oefeninge behels die maak van sisklanke terwyl die seun op 'n stoel sit en op sy rug lê; om te hyg; om 'n vingerpunt op die onderpunt van die larinks te plaas en die klinkers a, e, i, o en u te sê terwyl daar stadig deur die neus asemgehaal word voor elke klinker; haak die kakebeen effens uit en sê die woorde 'every orange'; haal stadig deur die neus asem terwyl daar liggies op die tong gebyt word; en gebruik die vingerpunte om die kakebeen se posisie effens af en agtertoe te stabiliseer."

Kritzinger beklemtoon ook die belangrikheid wat 'n goeie liggaamshouding in alle fasette van sing speel en voeg by dat dit goeie asemhalingbeheer gee, wat weer op sy beurt die grondslag vir klankproduksie vorm.

“Wanneer 'n mens dus met adolessente-seuns werk, is dit belangrik om 'n kultuur te skep waarin die handhawing van 'n goeie liggaamshouding noodsaaklik is.

“Die beste resultate sal na my mening verkry word indien hierdie oefeninge vir nie meer nie as 30 minute per dag gedoen word. Asemhaling- en klinkerplasingoefeninge moet verkieslik al voor puberteit gedoen word." Hy sê die vermenging van die ou hoër seunstem met die nuwe laer stem vind gedurende puberteit plaas, met die vestigingsfase wat daarna volg.

Kritzinger sê dat hoewel nie al hierdie oefeninge op adolessente-seuns wat deur die verskillende stadiums van stemveranderinge gaan nie, kan hulle egter 'n aansienlike bydrae tot die onderrig van gesonde sang lewer.

“Dit is praktiese oplossings vir koordirigente om jong seuns en hul veranderende stemme te hanteer. Dit kan ook 'n geslag jong seuns tot gevolg hê wat toegerus is met die nodige toerusting om stemverandering te hanteer."

Hy sê 'n beter begrip van die veranderende seunstem sal meer seuns help om behoorlike stemleiding deur koorpedagogie te kry. Dit kan ook Suid-Afrika op die wêreldverhoog van die ontwikkeling van stempedagogie plaas.

“Dit sal hopelik as aanmoediging dien vir musiekopvoeders wat met die veranderende seunstem moet werk."

Kritzinger sê hy wil graag voortgaan met hierdie tipe navorsing deur die ware uitwerking van die voorgestelde stemoefeninge op seuns oor 'n tydperk van drie jaar te evalueer.

  • Hooffoto: Drankensberg Seunskoor. Krediet: Wikimedia Commons
  • ​Foto 1: Xander Kritizinger by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Xander Kritzinger

Hoërskool Stellenbosch

Tel: 021 887 3082   

Sel: 0748893848

E-pos: xander.kritzinger@stellies.com

          UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za