Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit AgriWetenskappe spog met meer studente wat graad kry
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 14/12/2018

Die Fakulteit AgriWetenskappe spog vanjaar opnuut met meer studente wat graad kry as in die vorige jaar.


Op die Desember-gradeplegtigheid het 247 studente die eerste keer graad verwerf, 10 het nagraadse diplomas ontvang en aan 13 is HonsBSc-grade toegeken. Daarbenewens is 31 meestersgrade en 15 PhD-grade in die fakulteit toegeken.


Dr Lara Alexander, ’n voedselwetenskaplike, het onder meer ondersoek ingestel na die bitter smaak van heuningbostee. Sy het die fenolitiese verbindings in groen (“ongefermenteerde”) en gefermenteerde heuningbostee ondersoek as moontlike aanduiders van bitterheid.


Dr Bonginkhosi Edward Dlamini, ’n entomoloog, het die soeklig laat val op die gebruik van nematodes en swamme om die gebande vrugtekalander (Phlyctinus callosus) te beheer. Hierdie kewer kan groot skade op vrugte- en wynplase veroorsaak.


Dr Sune Henning, ’n voedselwetenskaplike, het op haar beurt visspesies bestudeer wat deur parasiete (Kudoa thyrsites en K. paniformis) besmet word. Hoewel dit skadeloos is vir diegene wat dit eet, veroorsaak sodanige besmetting grootskaalse verliese in die plaaslike visbedryf.


Dr Carlien Vorster, ’n bewaringsekoloog, het ’n naaldekoker-studie gedoen wat ’n nuwe hulpmiddel bied om die stand van varswaterbronne in Afrika te ontleed. Dié hulpmiddel genaamd die Afrika-naaldekoker- biotiese indeks kan gebruik word om die ekologiese welstand van varswaterbronne te bepaal.


Dr Shepherd Mudavanhu, ’n landbou-ekonoom, het volhoubare grondbestuurbeplanning bekyk in gebiede wat indringerplantvry gemaak is. Sy navorsing kan besluitnemers help om voortaan beter grondbestuurbeplanning te doen.