Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-studente smee bande met eweknieë op die vasteland
Outeur: Amanda Tongha
Gepubliseer: 25/09/2018

Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal het gedurende sy 25 jaar lange bestaan al duisende US-studente van Study Abroad- en uitruilgeleenthede voorsien en hulle sodoende waardevolle internasionale ervaring laat opdoen. Menige student gryp die geleentheid aan, maar kon tot dusver slegs uit mobiliteitsprogramme by vennootinstellings in Europa, Noord-Amerika, Asië of Australië kies. Dít is egter op die punt om te verander: US-studente kan nou ook aan kort mobiliteitsprogramme by 26 vennootinstellings op die Afrikavasteland deelneem.

​Vyf Studenteraads- (SR-)lede van Stellenbosch- en Tygerbergkampus het in September 2018 as deel van 'n leierskapsontwikkelingsprogram die Universiteit van Ghana besoek. Die groep, wat deur personeellede van Studentesake en US Internasionaal vergesel is, is na Wes-Afrika om met eweknieë daar bande te smee en besienswaardighede soos die Ghanese parlement, die Suid-Afrikaanse ambassade en die Nasionale Museum te besoek. 'n Volgende groep Matiestudente sal in Maart 2019 na Egipte reis om aan die residensiële lewensuitruilprogram van die Amerikaanse Universiteit in Kaïro deel te neem. Daar sal hulle 'n ryke kulturele ervaring hê en waardevolle verhoudings met hulle eweknieë van Noord-Afrika bou. Daarbenewens het US Internasionaal gereël dat twee studente in die program BCom Internasionale Besigheid in die tweede semester van 2019 'n uitruilprogram by Strathmore-universiteit in Kenia voltooi.

Nico Elema, die bestuurder van US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika (CCA), sê die Universiteit wil graag netwerke en samewerkingsverhoudings op die vasteland bou en studente aanmoedig om aan Afrikamobiliteitsprogramme deel te neem. “Die meeste studente stel belang in geleenthede oorsee. Ons wil geleenthede op die vasteland vir hulle aanloklik maak."

'n Aantal inisiatiewe is oor die jare bekend gestel om geleenthede te skep vir studente én personeellede om met hulle eweknieë op die vasteland te skakel. Sowel akademiese as steundienstepersoneel kan aan mobiliteitsprogramme deelneem, met ander navorsers saamwerk, of vennootinstellings vir vergelykingsdoeleindes (“benchmarking") besoek. Vir nagraadse studente is daar mobiliteitsgeleenthede in programme soos TRECCAfrica (“Transdisciplinary Training for Resource Efficiency and Climate Change Adaptation in Africa"), wat doktorale en magisteropleiding aan studente van ses toonaangewende universiteite in Afrika voorsien.

Wat die nuwe programme van voriges onderskei, is dat dit spesifiek afgestem is op voorgraadse studente en studenteleiers, wat 'n kort tydperk by geïdentifiseerde vennootinstellings sal deurbring. Nico sê die Universiteit ondersoek moontlikhede om kort programme op die vasteland verder te ontwikkel. Hierdie kort programme sal geskoei wees op die lees van die suksesvolle Katholieke Universiteit (KU) Leuven/US-dinkskrum onder leiding van US Internasionaal, Studentesake en die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut. Die dinkskrum bied 15 nagraadse studente die geleentheid om met eweknieë by KU Leuven in België in aanraking te kom. Studente gebruik die internet, e-pos en videokonferensiegeriewe om aan maandelikse seminare deel te neem. Die jaar lange program eindig met 'n twee weke lange besoek, wanneer die verskillende groepe by KU Leuven of Stellenbosch byeenkom.

“Ons hoop die residensiële lewensuitruilprogram in Kaïro en die leierskapsontwikkelingsprogram van die Universiteit van Ghana sal 'n jaarlikse instelling word. Die ideaal sou wees dat alle nuwe SR-lede aan die Ghana-leierskapsprogram deelneem, en dat ons ook ons eweknieë van die Universiteit van Ghana plaaslik ontvang. Hierdie ervaring behoort studente die vasteland opnuut te laat waardeer, en hulle te motiveer om met hulle terugkeer in studenteleierskap te belê."

Op besoek aan Ghana was van links; Nico Elema, Kevin Oira, Minette Sieberhagen, Aluwani Ramarumo en Anele Mdepa

​Foto: Angelo Jephtha