Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bestudeer die heilige geskrifte van die Christendom, Islam en Judaïsme om maatskaplike kohesie in Suid-Afrika te bevorder
Outeur: Sandra Mulder/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 19/09/2018

'n Voorgestelde navorsingsentrum wat die interpretasie sal bestudeer van die gesaghebbende heilige geskrifte van drie godsdienstige belangegroepe in Suid-Afrika – die Christendom, Islam en Judaïsme – kan help om gesprekvoering tussen hierdie gelowe te bevorder, verhoudinge tussen hulle te verbeter en tot groter maatskaplike kohesie in die Suid-Afrikaanse samelewing bydra.

Dit is kortliks die visie van 'n projek vir die stig van die Sentrum vir die Interpretasie van Gesaghebbende Heilige Geskrifte (CIAS) in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hierdie projek het verlede week (13 September) by STIAS momentum gekry tydens 'n multidissiplinêre werksessie vir die ontwikkeling van 'n teoretiese basis vir die voorgestelde CIAS.

Die werksessie is bygewoon deur rolspelers van verskillende dissiplines en godsdienstige belangegroepe van die US en ander instellings in Suid-Afrika asook die buurland Botswana. Sprekers by die werksessie was professore Louis Jonker, Jeremy Punt, Aslam Fataar, Marius Nel, Xolile Simon, Reggie Nel, Nuraan Davids en Christo van der Merwe; doktore Ntozakhe Cezula en Peter Nagel; en nagraadse studente Slindile Thabede en Paul Adebayo (almal van die US); professore Abdulkader Tayob en Sa'ddiyah Shaikh (albei van die Universiteit Kaapstad), Muhammed Haron (Universiteit van Botswana), Rashied Omar (Notre Dame-universiteit, en imaam van die Kenilworth-moskee), Klippies Kritzinger (UNISA) en Ashraf Dockrat (Universiteit Johannesburg).

IMG_8766.JPG​​

Foto: Van die mense betrokke by  ontstaan van die projek is, van links, prof Marius Nel, prof Jeremy Punt, dr Peter Nagel,

prof Xolile Simon, prof Louis Jonker en dr Ntozakhe Cezula​


 

Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies by die US, het in sy openingsrede by die werksessie aangedui dat hy die projek steun aangesien dit in ooreenstemming is met die US se visie om 'n navorsingsintensiewe universiteit te wees. Dit is vir die US belangrik om nie net tersaaklike navorsingsgebiede te identifiseer nie maar ook om te kyk in watter mate die navorsing 'n impak op die samelewing sal hê.

 “Ons het bepaalde navorsingsvelde geïdentifiseer wat volgens ons belangrik is. Nasionale en internasionale samewerking is van kritieke belang. Ongelukkig het universiteite in Suid-Afrika die ingesteldheid dat hulle in kompetisie met mekaar is wat gelei het tot geen ongedwonge samewerking tussen hulle nie. Dit is nodig dat ons kennis deel en met mekaar saam werk.

 “Ek is tevrede met die Sentrum se fokus wat op navorsing sal wees – dit val binne die US se strategie. Ek wil die inisieerders van die projek geluk wens en bedank. Dit sal vir almal van julle belangrik wees om na mekaar te luister; daar sal verskillende perspektiewe wees wat fantasties is. Lê die navorsingspad vir die volgende vyf jaar en daarna uit, maak seker die netwerke is betekenisvol en die navorsing betroubaar, en ons sal die voordele sien van wat julle vir die breë samelewing doen," het Cloete gesê.

Die idee om CIAS te stig was die geesteskind van prof Louis Jonker van die Fakulteit Teologie wat die status van godsdiensstudies in gesaghebbende heilige geskrifte in die land ondersoek het.

 “Ek was teleurgesteld dat – hoewel baie instellings (van godsdienstige gemeenskappe tot universiteite) godsdiensstudies aanbied – dit blyk dat talle nie spesifiek op die interpretasiestrategieë van die gesaghebbende heilige geskrifte fokus nie, en daarom nie op die uitruil en gesprek oor hierdie tradisies nie, ten spyte daarvan dat ons almal bewus is van die feit dat godsdiens 'n prominente rol in maatskaplike kohesie of maatskaplike konflik in die samelewing speel," het Jonker gesê.

Selfs die US het nie 'n institusionele eenheid wat op godsdiensstudies fokus nie. Die voormalige Departement Bybelse Studies aan die US het ná 1994 na Departement Godsdiensstudies verander, maar geleidelik van die toneel af verdwyn, het Jonker verduidelik.

Die heilige geskrifte van die Ou en Nuwe Testament in die Christendom, die Koran in Islam, en die Hebreeuse Bybel in Judaïsme het nie net 'n meer beperkende rol in die definiëring van die rituele en gebruike van hierdie godsdienstige gemeenskappe nie, maar het ook 'n breër impak op die wêreld se sienings, gelowe, etiese waardes en ideologiese posisies van lede van dié gemeenskappe.

Die fokus van CIAS sal daarom wees op:

  1. die oorsprong van hierdie heilige geskrifte en hoe hulle gesaghebbend geraak het (met inbegrip van die verhouding tussen die ontstaan van gesaghebbende heilige geskrifte en imperiale ideologie);
  2. die historiese tradisies van interpretasie en herinterpretasie binne en tussen hierdie heilige geskrifte;
  3. die hermeneutiese tradisies wat die geskiedenis van die interpretasie van hierdie heilige geskrifte gedomineer het;
  4. die rol van hierdie hermeneutiese tradisies in die Suid-Afrikaanse samelewing; en
  5. die moontlikheid om gesprekvoering tussen hierdie tradisies te bevorder.

Die beplanning is dat die projek tot 2020 sal duur ter voorbereiding van die stigting van die voorgestelde Sentrum. Tot dan sal die akademici bestaande literatuur oor die onderwerp bestudeer en kundigheid in die veld opdoen. 'n Navorsingsinfrastruktuur sal vir die Sentrum ontwikkel word en in hierdie proses sal 'n postdoktorale genoot vir die volgende twee jaar aangestel word. Ten minste vyf navorsingstukke oor onderwerpe wat met die Sentrum verband hou en die betrokkenheid van 'n doktorale student om op die verbandhoudende onderwerp te fokus word ook vir volgende jaar beplan. Geldinsamelingsgeleenthede sal in 2019 en 2020 voortgesit word om te verseker dat die Sentrum van 2021 af volhoubaar sal wees.

Belanghebbendes kan by prof Louis Jonker (LCJ@sun.ac.za) navraag doen om meer inligting te kry.​