Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lamellêre-kornea chirurgie ʼn eerste vir Tygerberg
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 12/07/2018

In Mei vanjaar het die Tygerberg-hospitaal een van slegs ʼn paar sentrums in die wêreld geword wat ʼn hoogs gespesialiseerde soort kornea-oorplanting bied wat slegs ʼn dun lagie van die kornea, in plaas van die hele kornea, vervang.

Dr Leonard Heydenrych van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se Afdeling Oogheelkunde, het ʼn Descemet se membraan-endoteel-keratoplastiek (DMEK) gedoen op ʼn inwonder van Eersterivier, me Gladys Maistry (68). Sy ly aan Fuch se korneale endoteel-distrofie, ʼn toestand wat geleidelike beneweling van die kornea veroorsaak. Heydenrych is bygestaan deur dr Derrick Smit.

“DMEK-chirurgie behels die oorplanting van slegs die binneste laag van die kornea in plaas van die volle-dikte kornea," sê Heydenrych. “Pasiënte herstel baie vinniger na hierdie prosedure as na ʼn tradisionele volle-dikte kornea-oorplanting, en hulle sig is ook heelwat beter."

Heydenrych het spesiale opleiding ontvang in die oorplanting van spesifieke lae, oftewel lamellae, van die kornea by Moorfields Ooghospitaal in London.

Beplanning vir hierdie prosedure het reeds ʼn jaar vantevore begin en is moontlik gemaak deur 'n openbare-private vennootskap tussen die Tygerberg-hospitaal en die Slick-restaurantegroep. Ian Halfon en Doron Duveen, die direkteure van die Slick-restaurantegroep, het finansiële ondersteuning aan die projek gebied deur ʼn spieëlmikroskoop te waarde van ongeveer R200 000 te skenk. Hierdie mikroskoop stel kornea-chirurge in staat om die endoteelselle agter die kornea te tel en so te bepaal watter pasiënte geskik is vir hierdie spesiale tipe chirurgie.

Tot op hede is daar al vyf DMEK-operasies by die Tygerberg-hospitaal uitgevoer, en dié sentrum sal binnekort die leiers in lamellêre-kornea chirurgie in Afrika wees.

 

Onderskrif: Voor is prof David Meyer en me Gladys Maistry van Kleinvlei, en agter is drr Leonard Heydenrych en Derrick Smit, mnr Ian Halfon en dr Kurt Maart.