Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-dosent passievol oor kurrikulum-ontwikkeling
Outeur: Rozanne Engel - Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 02/07/2018

“Uhuru" beteken bevryding in kiSwahili. Dit is ook 'n gepaste naam vir dr Uhuru Phalafala, wat 'n sleutelrol speel in die bevryding van jong studente se denke aan die Universiteit Stellenbosch (US). Op die ouderdom van slegs 34 jaar het dr Phalafala reeds 'n hele rits prestasies in haar akademiese loopbaan bereik, terwyl sy steeds aan die US se Departement Engels in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe klas gee.

Sy is 'n genoot van die Universiteit van Michigan se Afrika- presidensiële Geleerdes (UMAPS) (2018), 'n ontvanger van die Nadoktorale Toekenning vir Afrika-humaniora-program (2019) van die Amerikaanse Raad van Vakverenigings, en die hoofnavorser van 'n tussen-institusionele Andrew Mellon-befondste vyfjaarprojek wat op die dekolonialisering van hoëronderwyskurrikula in Suid-Afrika gemik is.

“Ek was nog altyd passievol oor kurrikulumontwikkeling omdat ek in groot mate deur primêre en sekondêre skoolopleiding getraumatiseer is. Op universiteit het die onderrig van die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis wat ek ontvang het, my roeping om die duidelike vooroordele en swak punte in ons onderwysstelsel aan te pak verder verstewig," sê dr Phalafala.

Gedurende haar grootwordjare in Polokwane, Limpopo, het dr Phalafala van 'n vroeë ouderdom af geleer dat sy die wêreld in haar verbeelding kan omvorm, en dit het haar uiteindelik op 'n literêre studierigting laat besluit. “Ek het groot ontsag vir die louter krag waarmee die verbeelding alternatiewe werklikhede kan vorm, wat weer tot instinktiewe en wesenlike gevolge in die 'werklikheid' lei. Dit is die mag van die verbeelding wat my gedurig daartoe beweeg om alles te bevraagteken. Dit het ingrypende gevolge vir my ontwikkeling gehad, selfs vandag nog."

Sedert haar voorgraadse jare het dr Phalafala belang gestel daarin om onbekende Suid-Afrikaanse literatuur wat deur die skrikbeeld van apartheid in ballingskap geplaas is, openbaar te maak. Sy glo dat die proses waarvolgens Suid-Afrikaanse literatuur uit ballingskap gerepatrieer word, die sleutel bied tot die dekolonialisering van hoëronderwyskurrikula, die vul van die gaping in ons kennisstelsel, en die repatriasie van Afrikaliteratuur wat in die akademie verlore geraak het.

“Gedurende my opleiding as 'n literêre vakkundige, veral in die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis, kom ek gereeld af op 'n bepaalde narratief oor ons kulturele produksie, wat 'n stewige produktiwiteit deur swart kunstenaars sedert die aanvang van die 20ste eeu verteenwoordig. Ek is egter wys gemaak dat die dekade van die 1960's 'n 'swyende dekade' vir swart literêre produksie was. So het ek gevind dat dit natuurlik nie voldoende is om die 1960's as 'n swyende era van swart literêre produksie te etiketteer bloot omdat ons nasionale letterkunde in daardie stadium gedeterritorialiseer was nie. Ek het anderkant die nasionale grense na daardie letterkunde begin soek en dit is hoe ek op die belangrike werk van Keorapetse Kgositsile en ander merkwaardige figure afgekom het."

Dr Phalafala het die Nasionale Navorsingstigting se Sabbatskenking ontvang wat haar vir twee jaar van haar onderrigtake vrystel om 'n boek te skryf oor die onlangs afgestorwe Suid-Afrikaanse Volksdigter Keorapetse (Bra Willie) Kgositsile. “Ek voel bevoorreg dat navorsingsverlof aan my toegestaan is – in dié tyd sal ek die geleentheid hê om my persoonlike navorsing oor Kgositsile te konsolideer, werk te verrig aan die groter projek om die verbanne tekste terug te vind, en tyd te bestee aan die digitale projek wat by die projek oor Suid-Afrikaanse kultuur in ballingskap aansluit."

Dr Phalafala hoop dat haar onderrig en navorsing in die Afrikaletterkunde, en haar passie vir kurrikulumontwikkeling, haar studente sal inspireer om ook hulle hartsroeping na te streef, hulle eie stryd te identifiseer en genoeg moed aan die dag te lê om dit trompop aan te pak.​

Foto verskaf Uhuru Phalafala.