Dehidrasie
weens ʼn
gebrek aan voldoende waterinname kan die menslike vel beïnvloed, wat weer ander
gesondheidsuitdagings kan meebring.
ʼn Tekort
aan vloeistofinname oor ʼn lang
tydperk kan gevaarlik vir mense wees, sê dr Suretha Kannenberg, ʼn dermatoloog verbonde aan
die Afdeling Dermatologie van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit
Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), teen die agtergrond van die
ernstige droogte wat in groot dele van die land posgevat het. “Mense kan nie
net erg dehidreer nie, maar diegene met ernstige veltoestande soos atopiese
ekseem en igtiose kan probleme ervaar.”
In ʼn 2010-studie met die
titel “Water, Hydration and Health” het Popkin et al. die belang van water ter
voorkoming van voedingsverwante nie-oordraagbare siektes benadruk. Kannenberg voer
aan dieselfde beginsel geld uit ʼn
dermatologiese perspektief. “Tydens droogtetydperke moet individue met
spesifieke veltoestande ekstra versigtig wees en voorsiening vir hul waterbehoeftes
maak. Mense met spesifieke toestande sal meer gereeld moet bad om dit te
beheer, terwyl mense met ʼn
gesonde vel weer maklik ʼn paar
dae lank nie hoef te bad of stort nie.”
Water bevat etlike chemiese eienskappe wat
dit onontbeerlik vir mense maak, derhalwe word na hierdie hulpbron as ʼn bron van lewe verwys. Maar hoeveel water het
die menslike liggaam nodig en wat gebeur as ons nie genoeg kry nie? Volgens Kannenberg
is water baie belangrik vir die handhawing van algemene gesondheid. “Sowat 75% van
babas en 60% van volwassenes se liggaamsgewig bestaan uit water. Mense se
presiese daaglikse watervereiste varieer aansienlik en hang onder meer van
liggaamsgewig, geslag, ouderdom en omgewingstemperatuur af.”
Mense kan
tussen een en drie weke sonder kos oorleef, maar sonder water waarskynlik slegs
sowat 100 ure, afhangend van etlike faktore. “Alle menslike liggame moet
gereeld met water aangevul word. Sweet, urinering, ontlasting en asemhaling
help die liggaam om van afvalprodukte ontslae te raak en die vloeistowwe wat by
hierdie prosesse betrokke is, bestaan meestal uit water. “’n Tekort aan
waterinname sal ’n opeenhoping van afvalprodukte in die liggaam meebring, wat
tot ander probleme kan lei,” sê Kannenberg.
Dors
is ʼn goeie
aanduiding van dehidrasie, maar die dorssensasie verdwyn wanneer dehidrasie
ernstig word. Volgens Kannenberg vul ons ons vloeistofvoorraad aan deur kos te
eet wat vloeistof bevat – dit maak sowat 20% van ons vloeistofinname uit. Die
ander 80% word voorsien deur die inname van enige soort vloeistof – nie net
water nie.
Wat die
vervanging van water as ʼn
wasmiddel betref, sê Kannenberg handsteriliseerders en ander soorte waterlose
skoonmaakmiddels is ʼn goeie
keuse. “Was net met jou hande en gebruik ligte seep wat baie min afspoeling
verg om jouself te was.”
Foto: www.pixabay.com