Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe skuif en groei vir die US Taalsentrum
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie - Rozanne Engel
Gepubliseer: 19/02/2018

​Nuwe geleenthede vir strategiese groei en bestendiging het aanleiding gegee tot die verhuising van bykans 'n derde van die personeel van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum na 'n nuwe en ruim perseel by Kleine Bosch, Banhoekweg 44, digby die Afrika Sentrum vir MIV/VIGS Bestuur en net 'n klein entjie van die Fakulteit Ingenieurswese.

Dit is gedoen na onderlinge raadpleging met die Regsadvieskliniek wat die Taalsentrum se gebou in Crozierstraat op 11 Desember 2017 betrek het.

Omgewings van die Taalsentrum wat deur dié verhuising geraak is, is onder meer die Kantoor van die Direkteur, die Skryflaboratorium, die Leeslaboratorium, die Taaldiens, asook die Taalleersentrum en die Kommunikasielaboratorium.

Die Direkteur van die Taalsentrum, dr Kim Wallmach, sê die nuwe perseel sal nuwe groei vir die sentrum meebring. “Dié hervestiging bring al hierdie eenhede die eerste keer onder een dak byeen, en bied ook die ruimte om sinergieë saam met ons jongste twee inisiatiewe, die Taalleersentrum en die Kommunikasielaboratorium, te ondersoek.

Die Taalsentrum het die afgelope vyftien jaar in 'n hoog aangeskrewe, professionele taal- en kommunikasie-ondersteuningsomgewing met vele fasette ontwikkel.  Aan sy akademiese kant bied die Taalsentrum 'n wye reeks akademiese ondersteuningsinisiatiewe gemik op die bevordering van akademiese lees- en skryfvaardighede, asook bystand aan voorgraadse, nagraadse en internasionale studente om 'n nuwe taal of tale aan te leer.

Die Skryflaboratorium bied jaarliks gratis een-op-een-konsultasies aan meer as 4000 studente en mik daarna om studente te help om hulle skryfvaardighede in 'n vriendelike en ontspanne atmosfeer te verbeter.  Die Leeslaboratorium bied 'n omvattende diens gemik op bystand aan studente om hulle leesspoed en begrip van studie aan universiteit op te skerp.  Benewens 'n aanlyn-leesprogram en een-op-een-konsultasies, word werkswinkels en leesspoed-ontwikkelingsprogramme aan meer as 3000 studente in ses fakulteite gebied.

“Studente sal nou ook toegang tot die Taalleersentrum hê. Laasvermelde is 'n nuwe inisiatief gemik op ondersteuning aan individuele studente wat graag beter meertalig wil wees deur isiXhosa en Afrikaans aan te leer.  Daar is ook ruimte by ons nuwe perseel vir die Taalleersentrum se individuele taalonderrig, tandem- en portier-leersessies. Studente het voorts die gerief om met behulp van PR-werkstasies in die sentrum en elders op kampus, self toegang tot aanlyn-leer te verkry," sê Wallmach.

Die Taalsentrum se Taaldiens probeer veeltaligheid bevorder, en bied vertaling- en redigeringsdienste vir Engels, Afrikaans en die Afrikatale, asook vir vreemde tale, insluitende Mandaryns, wat die jongste toevoeging is. Die Taaldiens gaan ook op die nuwe perseel gehuisves word. Dit voorsien aan die Universiteit se vertaal-, redigering- en algemene taalbehoeftes, en lewer ook diens aan verskeie kliënte in die sakesektor.

"In reaksie op die Universiteit se nuwe taalbeleid wat in 2016 ingestel is, is ons dienste meer vaartbelyn gemaak om logisties en realisties in ooreenstemming met interne en eksterne markaanvraag te wees," sê Wallmach.

Die nuwe fasiliteite sluit ook 'n hoogs moderne seminaarkamer in wat geskik is as lokaal vir werkswinkels in taalverwerwing, lees en skryf vir nagraadse studente. Dit is ook 'n ideale lokaal vir die gespesialiseerde werkswinkels en kort kursusse wat deur die Kommunikasielaboratorium aangebied word in doeltreffende kantoorkommunikasie, aanbiedingsvaardighede, verslagskrywing en sakeblogs vir sosiale media, asook in vorm-, en kommunikasie-ontwerp en verstaanbare taal.

Die Taalsentrum is deel van die Afdeling Leer- en Onderrigverryking wat onder die Viserektor: Leer en Onderrig ressorteer.

Vir nadere besonderhede oor die dienste wat die Taalsentrum bied, klik hier

Taalsentrum-kontakbesonderhede:

E-pos: taalsentrum@sun.ac.za

Tel.: 021 808 2167

Gratis besprekings vir Skryflaboratorium-konsultasies kan gedoen word via die Skryflaboratorium-knoppie by my.sun.ac.za