Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MB,ChB-kurrikulum omvattend vernuwe
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 20/11/2017

Die mediese program (MB,ChB) van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) word tans vernuwe om dit meer pragmaties vir studente en meer ontvanklik vir die gesondheidsbehoeftes van die bevolking te maak.

Die nuwe kurrikulum sal na verwagting in 2020 ingestel word. Verskeie veranderinge sal aan die huidige program aangebring word om kwessies soos feite-oorbelading aan te pak, asook groter interprofessionele samewerking tussen dissiplines te vestig, het prof Julia Blitz op ʼn onlangse vergadering gesê waar die vernuwingsprojek aangekondig is. Sy is die Visedekaan: Leer en Onderwys van die FGGW en ʼn lid van die vernuwingsprojek se bestuurspan wat die proses by die FGGW stuur.

“Die projek behels meer as om bloot veranderinge aan die programinhoud aan te bring – die proses van onderwys en leer word ook opnuut bekyk," het Blitz gesê. Hierdie projek is deel van ʼn programvernuwingsproses wat in Mei vanjaar oor die universiteit heen van stapel gestuur is. Die projekbestuurspan en ander rolspelers het tydens ʼn werksessie in Augustus ʼn breë raamwerk vir die nuwe MB,ChB-kurrikulum ontwikkel.

“Ons het die kurrikulum met ʼn DNS-dubbelheliks vergelyk. Die een string verteenwoordig die teoretiese en kliniese komponente van die kurrikulum en die ander die graduandi-eienskappe – dis ʼn dubbelheliks omdat die twee mekaar moet volg. Die basispare van die DNS-stringe verteenwoordig ʼn voortgesette, longitudinale fokus op die self, die pasiënt, die gemeenskap en die gesondheidsorgstelsel," het Blitz verduidelik.

Die modules wat deur die projekbestuursprojekspan voorgestel word, is die volgende:

  • Jaar 1, Semester 1 – Om te wees en te word
    Die oorgang van skool na universiteit en die idee om ʼn dokter te word.
  • Jaar 1, Semester 2 – Gesondheid en welstand
    Die bevordering van gesondheid en die voorkoming van swak gesondheid – met ʼn fokus op insig in wat gesondheid en die handhawing van “normaliteit" is.
  • Jaar 2, Semester 1 – Vorm volg funksie
    Die verbintenis tussen anatomie en fisiologie.
  • Jaar 2, Semester 2 – Wanfunksionering
    Hoe dinge “verkeerd gaan" – wat betref die self, die pasiënt, die gemeenskap en die gesondheidsorgstelsel.
  • Jaar 3, Semester 1 – Mediese speurder
    Tekens en simptome, insluitende die insameling van agtergrondfeite, die uitvoer van kliniese ondersoeke, en die maak van ʼn diagnose.
  • Jaar 3, Semester 2 – Intervensies
    Die intervensies wat ná ʼn diagnose in werking gestel moet word, insluitende farmakoterapie, chirurgie, radioterapie, berading, om as agente vir verandering op te tree, ens.
  • ʼn Longitudinale primêresorg-blootstellingskomponent sal in die eerste drie jaar van die kurrikulum geïnkorporeer word.
  • Jaar 4 en 5 Kern- kliniese rotaties en selektiewe rotasies, keusevak(ke) en ʼn navorsingsmodule
  • Jaar 6 – Gedesentraliseerde rotasie

“'n Belangrike beginsel wat ons in die nuwe kurrikulum wil veranker, is die wegbeweeg van dissipline-spesifieke onderrig na ʼn probleemgebaseerde kurrikulum," het dr Liezl Smit, ʼn konsultant-klinikus van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid, gesê. Sy het verduidelik dat pasiënte in die praktyk met ʼn probleem presenteer en dit dan van die dokter afhang om die siekte te identifiseer. “In mediese skool leer ons hulle dikwels oor die siekte, maar verwag dan van hulle om in kliniese rotasie sin te maak van ʼn probleem met ʼn pasiënt voor hulle."

Volgens prof Ben van Heerden, MB,ChB-programkoördineerder en Direkteur van die Eenheid MB,ChB, moet mediese kurrikulums dikwels vernuwing ondergaan om tred te hou met tendense in gesondheidsberoepe-onderwys wêreldwyd. Hierdie is die derde omvattende vernuwing van die FGGW se MB,ChB-kurrikulum sedert die program in 1956 van stapel gestuur is.

“Ons kurrikulumontwerp moet primêr op die gesondheidsbehoeftes van die bevolking en die behoeftes van die gesondheidstelsel gebaseer word," het Van Heerden gesê. Volgens hom vind groot veranderinge in die land se gesondheidsorgstelsel plaas, wat van mediese graduandi sal vereis om vaardig te wees in al die rolle wat deur CanMEDS se graduandi-eienskappe beskryf word: beroepsmens, kommunikeerder, medewerker, leier en bestuurder, gesondheidskampvegter en vakkundige.