Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die afkap van denneplantasies: doen dit eerder vroeër as later vir fynbos se onthalwe
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 15/11/2017

Hier is raad vir grondeienaars wat dennebome van hul eiendom wil verwyder in die hoop dat inheemse fynbos weer daar sal teruggroei: doen dit voordat dennebome langer as 30 jaar lank in 'n gebied gegroei het. Hoe langer daar gewag word, hoe kleiner raak die kanse dat daar enige fynbossaad in die grond sal oorbly wat weer kan wortel skiet. Dit blyk uit navorsing wat in die South African Journal of Botany verskyn het en deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch en die Stad Kaapstad gedoen is.

Grond- en plantmonsters is as deel van die studie geanaliseer deur Alistair Galloway, 'n nagraadse student van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Bewaringsekologie en Entomologie.

Galloway sê hy het op die onderwerp besluit omdat min navorsing tot dusver gedoen is oor fynbosveld se herstelpotensiaal nadat dennebome daaruit verwyder is. Sy studies het nie net vanjaar gelei tot die publikasie van sy eerste eweknie-geëvalueerde artikel in 'n vaktydskrif nie, maar het ook in 2016 aan hom die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie se Daniel Booysen Gedenktoekenning besorg vir die beste vierdejaar-projek. Galloway het onlangs ook 'n US Rektorstoekenning vir Akademiese Uitnemendheid ontvang.

Drie gerespekteerde navorsers oor sake wat verband hou met die impak van indringerspesies op die Kaapse Blommeryk se inheemse fynbosplantegroei het saam met Galloway gewerk aan die studie. Hulle is dr Pat Holmes van die Stad Kaapstad se Departement Omgewingsbestuurs (en ook 'n buitengewone medeprofessor van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie), dr Mirijam Gaertner van die Nürtingen-Geislingen Universiteit vir Toegepaste Wetenskap in Duitsland, en prof Karen Esler van die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie. Galloway se projek is deur die Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (CIB) befonds. Gaertner, Holmes en Esler doen almal navorsing in samewerking met dié navorsingsentrum, wat sy hoofkwartiere het aan die US.

Hoe gouer hoe beter vir fynbos

 

Die studie is in die Helderberg Natuurreservaat uitgevoer. Dit word deur die Stad Kaapstad bestuur en is ʼn reservaat wat Galloway, wat van Somerset-Wes kom, sedert kindsbeen besoek.

 

Vir sy navorsingprojek het Galloway stukke veld waarop Kaapse Wynland Skalie-fynbos natuurlik groei vergelyk met grondgebied waarop Pinus Radiata dennebome in die 1960's geplant is. Al die studieterreine het in die herfs van 2015 gebrand. Bome in drie van die voormalige plantasiegebiede is tussen 1992 en 1994 afgekap. Dit het die natuurlike plantegroei kans gegee om oor die afgelope 20 jaar weer terug te groei. In drie ander dele is die dennebome eers in die winter van 2014 afgekap, wat beteken dat daar vir sowat 50 jaar lank dennebome daarop gegroei het.

 

Galloway het grondmonsters versamel om uit te vind of daar steeds enige lewensvatbare fynbossaad oorgebly het in die grond van die voormalige plantasies. Hy het ook aangeteken hoe die natuurlike plantegroei teruggegroei het nadat die bome verwyder is en die gebied gebrand het. 'n Groot aantal sade van verskillende soorte inheemse fynbosspesies is gevind in die grond wat versamel is in gebiede waaruit 30-jarige dennebome verwyder is. Die fynbosplante wat daarop gestaan het, het terug gegroei teen ʼn soortgelyk digtheid as wat gewoonlik die geval is in onversteurde fynbosgebiede. Dieselfde kon egter nie gesê word van die studiegebiede waarop 50-jarige bome gestaan het nie. Daar het maar min van die natuurlike saadbank in die grond oorgebly.

 

Volgens Galloway wys sy navorsing dat genoeg sade agtergebly het in die grond waaruit 30-jarige bome verwyder is. Sodoende kon sommige van die fynbosplante wat voorheen daar gegroei het weer natuurlik wortel skiet. Doelbewuste bewaringsaksies sal egter nodig wees om spesies wat afkomstig is uit omringende gebiede weer op die 50-jarige plantasie-studieterreine te hervestig en sodoende die herstel van die natuurlike plantegroei te verseker. Sulke pogings kan ook help om moontlike gronderosie op die ontbosde gebiede te bekamp.

“Omdat daar so min oorspronklike saad oorgebly het in dié grond, sal die herstel van ouer terreine baie meer tydrowend en duur wees," reken Galloway.

 

Volgens prof Esler moet diegene wat plantasies of aksies rondom die verwydering van indringerspesies in die fynbosbioom bestuur, in gedagte hoe lank dennebome reeds in 'n gebied groei. Hoe korter, hoe beter as dit kom by die herstel van fynbosveld.

 

“Dit beskerm die inheemse saadbank en die herstelpotensiaal van fynbos, en verminder die latere nodigheid vir beplande herstelaksies," voeg prof Esler by. “Langtermyn opvolgbeheer van sekere uitheemse spesies moet ook gedoen word om die saadbank van uitheemse spesies te help verminder, en die oorlewingspotensiaal te verbeter van inheemse spesies wat moontlik weer kan teruggroei."

 

Verwysing: A.D. Galloway, P.M. Holmes, M. Gaertner, K.J. Esler (2017). The impact of pine plantations on fynbos above-ground vegetation and soil seed bank composition, South African Journal of Botany

 

Foto-onderskrif:
Alistair Galloway, 'n nagraadse student aan die Universiteit Stellenbosch, het navorsing gedoen oor die herstel van fynbosveld nadat dennebome daaruit verwyder is.