Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Beter bestuur van sportbeserings danksy Gevorderde Konkussie-eenheid
Outeur: Frieda le Roux
Gepubliseer: 14/11/2017

​​​Wat het Springbokkaptein Eben Etzebeth en sy All Black eweknie Beauden Barret, in gemeen? Albei het die afgelope maand die nuus gehaal weens konkussie. Voeg sommer daarby Warren Whitely, Martin du Toit, Poerie van Rooyen en Jaco Coetzee – ook almal sedert Oktober vir 'n tydjie van die rugbyveld weens 'n harde hou teen die kop. En vroeër vanjaar is Maties-kaptein Beyers de Villiers se rugbyloopbaan kortgeknip nadat ook hy met konkussie, of te wel harsingskudding, gediagnoseer is.

Daarom dat die totstandkoming van 'n Gevorderde Konkussie-eenheid by die Instituut vir Sport en Oefeniggeneeskunde (ISOG) goeie nuus inhou nie net vir rugbyspelers nie, maar ook vir ander kontaksporte, soos hokkie of boks, waar spelers dikwels 'n stamp teen die kop opdoen.

“Nege-en-negentig persent van konkussies word gesond," sê dr. Pierre Viviers, Senior Direkteur van die US se Kampusgesondheidsdiens (KGD) en betrokke by ISOG. Volgens Pierre is die risiko laag solank die riglyne ('evidence') gevolg word. “Maar as jy konkussie vermoed, moet die speler van die veld verwyder word."

Pierre help dikwels in internasionale wedstryde as een van vyf dokters wat moet besluit of 'n speler konkussie opgedoen het en die veld moet verlaat. Met sy kollegas by KGD doen hulle ook heelwat sosiale impak-werk, soos om diens te doen by die onlangse Klapmuts Sewes-toernooi, om met die voorkoms en behandeling van beserings soos konkussie te help.

Dit is juis die 'vermoed-en-verwyder' beginsel (“suspect and remove") wat in die volgende jaar hopelik 'n groot hupstoot sal kry wanneer Pierre en kollega prof. Wayne Derman, direkteur van ISOG, wil erns maak om afrigters – van skolevlak – te bemagtig met beter opleiding in die herken en bestuur van harsingskudding.

'n Konkussie-program is reeds in 2003 by die Universiteit van stapel gestuur, met rekreasie- én meer professionele spelers wat hierby baat. “Ons sien tussen 300 en 350 konkussies per jaar, wat ons toegang gee tot baie waardevolle inligting vir navorsing." Dit is juis hierdie inligting wat deur die Gevorderde Konkussie-eenheid gebruik sal word om hierdie potensieel baie gevaarlike toestand selfs beter te bestuur. Die eenheid wil nie net die fisiologiese herstel van spelers meer akkuraat kan bepaal nie, maar ook konkussie behandelingsmodaliteite in plek sit om die verloop van gekompliseerde beserings te verkort. Verskeie oorsese universiteite (Washington in die VSA, Calgary in Kanada en Bath in Engeland) het reeds aangedui dat hulle belangstel om in die navorsing te deel.

Volgens Pierre is konkussie veral gevaarlik onder tieners en adolossente, waar die brein steeds groei. “Spelers word dikwels te vinnig terug gesit op die veld. As hulle dan wéér konkussie opdoen, is dit nie 'n nuwe besering nie, maar die bestaande besering wat vererger word." En die kennis om konkussie veilig te bestuur ontbreek dikwels juis op skool- en klubvlak.

Volgens dr. Leslie van Rooi, Senior Direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, wys Pierre, soos prof. Wayne Derman, dat navorsing 'n breër impak kan hê, ook op die verskillende gemeenskappe om ons. “Deur dit te doen wat ons daagliks doen kan ons die lewens van sportsterre en jong opkomende sportlui positief beïnvloed."