Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Personeel en studente moet waarskuwing oor water ernstig neem
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 19/09/2017

Waterbeperkings behoort personeel en studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) aan te moedig om meer versigtig te wees oor hoe hulle water gebruik, het Meg Pittaway, 'n Omgewingspesialis in die Afdeling Fasiliteitsbestuur aan die US, onlangs gesê.

Sy was 'n gas op die kampus-radiostasie MFM waar sy oor die belangrikheid van waterbesparing op die verskillende US-kampusse gepraat het.

Gedurende die onderhoud het Pittaway luisteraars se aandag gevestig op die Stad Kaap se aankondiging  dat Vlak-5 waterbeperkings op 1 Oktober in werking sal tree.

Sy het verduidelik wat dit vir die Universiteit beteken: “As die US meer as 20 kiloliter water per maand gebruik as teen dieselfde tyd verlede jaar, sal dit buitensporige boetes vir waterverbruik betaal. Mense mag ook net 87 liter water per dag gebruik."

Pittaway het ook probeer om 'n​ perspektief te bied op hoeveel 87 liter water is. “Ongeveer 10 liter water word gebruik om die toilet te spoel. So om die toilet drie keer te spoel is 30 liter."

Sy het daarop gewys dat studente in koshuise na raming meer as 87 liter per dag gebruik.

“Op kampus skat ons dat kampusgebruikers tot 20 liter water per dag kan gebruik, wat dan van die 87 liter water wat by die huis toegelaat word, moet afgetrek word om by die Stad se teiken te bly. Hier kan ons almal help deur die kraan toe te maak wanneer jy jou hande was en koppies saam te was in plaas van individueel."

Pittaway het studente aangemoedig om hul waterverbruik te verminder deur minder as twee minute te laat stort; deur vol vragte te wasgoed te was net wanneer dit nodig is, en deur ʼn emmer byderhand te hê wanneer hulle stort en dan die water te gebruik om die toilet te spoel.

Sy het gesê hulle is besig om meer akkurate meters te installeer om hierdie verbruik beter te meet.

“Ons is ook besig met die bekendstelling van Projek 80 wat 'n bewusmakingsveldtog is om studente in te lig oor watergebruik en hoe hulle hul waterverbruik kan verminder," het sy bygevoeg.

Pittaway het genoem dat die goedgekeurde Vlak-5 waterbeperkings reeds vanaf 3 September 2017 by die Tygerberg- en Bellvillepark-kampusse geld.